Video: Heldhaftige kat red seuntjie toe hond hom aanval

Tara, die heldhaftige kat (skermskoot uit die video)

Tara, die heldhaftige kat (skermskoot uit die video)

Die Triantafilo-gesin se kat is nou ʼn internetsensasie en ʼn held nadat hy die vierjarige Jeremy gered het toe ʼn hond hom aangeval het.

Jeremy het Dinsdag met sy fietsie in die gesin se oprit in Bakersfield, Kalifornië, gery toe die bure se hond hom skielik aan sy been gebyt het. Die gesin se kat, Tara, het egter op die hond afgestorm en hom verjaag.

Die voorval is op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgelê en Jeremy se pa, Roger, het Woensdag die video op YouTube gelaai. Dié video is die afgelope 24 uur reeds meer as 5.2 miljoen keer gekyk en talle weergawes van die video vaar ook baie goed op ander kanale. “My kat het my seun gered,” het Roger by die video geskryf.

“Tara is my heldin,” het Jeremy Woensdagmiddag aan Bakersfield Now gesê. Hy moes steke aan sy been kry.

Jeremy se ma het direk ná die aanval probeer om die hond van hul eiendom te verjaar en sy is ook aangeval. Sy is egter nie beseer nie. Roger het bevestig sy het eers seker gemaak dat Jeremy nie te erg beseer is nie, voordat sy die hond probeer verjaag het. Sy wou seker maak dat hy nie terugkom en hulle weer aanval nie. Die hond se eienaars was tuis en hulle kon hom beheer. Sy het daarna dadelik weer aandag gegee aan Jeremy.

Die hond se eienaar het intussen die dier aan die stad se dierebeheerbeamptes oorhandig. Hy sal 10 dae lank in kwarantyn bly en dan van kant gemaak word, het die polisie aan CBSNews gesê.

Tara is glo al vyf of ses jaar lank die gesin se troeteldier nadat sy Roger en sy vrou een dag huis toe gevolg het.

WAARSKUWING: Jeremy se wonde word van 0:48 in die video gewys. Indien jy ‘n sensitiewe kyker is, stel ons voor jy kyk net totdat Jeremy en sy ma van die toneel wegstap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marlene ·

Wonderbaarlik dat ‘n katjie die seuntjie se lewe gered het.

Miaaaaau. Hoop jy word sommer ekstra bederf en die seuntjie, gou gesond word mannetjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.