Video: Hond net betyds gered voor trok hom sleep

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Oplettende wetstoepassingsbeampte van die Yavapai-distrik in Arizona in die VSA het ʼn hond se lewe gered oomblikke voordat hy agter ʼn vragmotor gesleep sou word.

Die voorval het op 8 September buite ʼn Shell-vulstasie langs ʼn snelweg in Ash Fork gebeur.

Die kantoor van die Yavapai-sheriff het Maandag ʼn video van die voorval, wat deur die wetstoepassingsbeampte se paneelbordkamera vasgevang is, op sy Facebook-blad gedeel.

Volgens die Facebook-plasing het die beampte, wat deel is van die plaaslike Volunteer in Protection-eenheid, vinnig by die vulstasie stilgehou vir ʼn blaaskans en was net weer op pad om op die snelweg in te swaai toe hy die vragmotor voor hom op die oprit na die snelweg sien draai.

Agter die vragmotor was ʼn klein hondjie met ʼn leiband aan die buffer van die vragmotor vasgebind en die diertjie het vervaard probeer hardloop om by te bly.

Die beampte het besef wat aan die gebeur is en het vinnig sy voertuig se ligte en sirenes aangeskakel en half voor die vragmotor ingery om hom tot stilstand te dwing. Die eienaar van die hond het toe eers besef hy het vergeet om sy vierpotige vriend terug in die voertuig te laai voordat hy weggetrek het en was baie dankbaar vir die veiligheidsbeampte wat hom betyds kon keer.

“Die bestuurder se aandag was bloot afgetrek en hy het vergeet om sy hond los te maak. Geen aanklagte sal aanhangig gemaak word nie,” lui die inskrywing.

Talle sosialemediagebruikers het die beampte geloof vir sy vinnige optrede om die hond te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

PetroD ·

Dankbaar vir die ouens wat letterlik op die regte tyd op die regte plek was. En ek dink die eienaar van die brakkie is nog meer as dankbaar. Dink net hoe sou hy gevoel het as hy ver(der) gery het en dan agterkom sy ou brakkie is nog agter vasgemaak?

Anoniem ·

Die verhaal is so treffend van hoe ons eintlik moet wees ! Menslikheid / Hondelikheid teenoor die hondjie en dat hy betyds gered is ! Ook Menslikheid teenoor die vragmotor bestuurder dat hy bloot vergeet het om sy woef los te maak en hy nie vervolg sal word nie ! Lof vir die beampte wat baie skerp was ! Dankie Onse Vader !

honourable member ·

Liewe hel wat die arme diere nie ook alles moet deurmaak nie. Die arme hond was so naby aan die dood.

BOLLIE ·

En julle glo wragtie iemand vergeet sy hond aan die buffer van ‘n vragmotor? So jy hoor hom nie, jy sien hom nie en jy mis hom nie as jy in die vragmotor terugklim nie? Ek is baie bly die arme dingetjie is gered, ek kan dink wat met hom sou gebeur het as daardie trok op volspoed was .. die eienaar sou seker net die LEASH by die volgende vulstasie aan die buffer gesien hang het . MENSE IS NALATIG .. moenie by my kom met verskonings nie.

Nettie ·

As ek daai hond is, soek ek so spoedig moontlik vir my ‘n ander eienaar. Dit was so hittete of hy was skoon bokveld toe! Watwou, vergeet van die die hond wat aan die vragmotor se buffer vasgemaak is ………………………….. kon hy hom nie maar in die kajuit toegesluit het nie???

Katerina ·

Hygend hert..en ek en my man dink Ons is vergeetagtig..ek het skaars woorde..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.