Video: Huis in ligte laaie ná beweerde gaslekkasie

’n Gaslekkasie was glo die oorsaak van ’n reuseontploffing Maandag by ’n huis in Tyrone, Pennsilvanië, in die VSA. (Foto: Facebook / Rob Harmon)

’n Gaslekkasie was glo die oorsaak van ’n reuseontploffing Maandag by ’n huis in Tyrone, Pennsilvanië, in die VSA.

Luidens berigte is vyf mense na die hospitaal vervoer en word een persoon tans vermis. Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie.

WKBN First News berig dat daar twee klagtes van ’n gasreuk was kort voor die huis in vlamme gehul is.

Talle nooddienswerkers was gister op die toneel om die brand in bedwang te bring terwyl rookwolke die lug gevul het.

Verskeie mense in die omliggende gebied van Pennsylvanialaan moes ook hul huise ontruim. Hoewel sommige inwoners in nabygeleë strate intussen na hul huise kon terugkeer, word inwoners van huise in dié straat nog nie by hul wonings toegelaat nie.

Twee aangrensende geboue is ook deur die brand geraak, terwyl talle inwoners sonder krag gelaat is. Volgens die Tyrone-polisie was nooddienswerkers Maandag nog hard aan die werk om kragtoevoer te herstel, maar kon geen aanduiding gee van wanneer inwoners weer elektrisiteit sal hê nie.

’n Gaslekkasie was glo die oorsaak van ’n reuseontploffing Maandag by ’n huis in Tyrone, Pennsilvanië, in die VSA. (Foto: Facebook / Scott Madaus)

“Peoples Natural Gas (PNG) is na die huis ontbied om ondersoek in te stel en was steeds op die toneel toe die ontploffing plaasgevind het,” lui WKBN se berig.

Die instansie se woordvoerder het gesê hulle het verskeie spanne op die toneel om te bepaal wat presies gebeur het en of daar steeds ’n gevaar is. Dit blyk egter dat die situasie ontlont is en dat daar nie ’n aktiewe gaslekkasie is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.