Video: Internet aangelê na seuns in oorstroomde grot

Die sokkerspan en hul afrigter wat vermis word. Foto: Via nationmultimedia.com

Owerhede in Thailand is tans besig om ʼn veseloptiese internetlyn aan te lê binne die oorstroomde grot waar 12 jong sokkerspelers en hul afrigter al elf dae lank vasgekeer is.

Phoowanart Keawdum, ʼn kommunikasietegnikus, het Woensdag gesê sodra die kabel geïnstalleer is, sal telefoonoproepe na die grot moontlik wees. Owerhede het reeds Dinsdag probeer om die kabel aan te lê, maar dit is deur water beskadig.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is sedert 23 Junie deur vloedwater in die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel.

Die seuns is tans veilig omdat hulle op ʼn hoër en droë deel diep binne die grot skuiling gevind het. Dié deel is egter kilometers ver van die ingang van die grot en kon slegs deur ervare spesialisduikers met ekstra suurstofvoorraad bereik word.

In die jongste video’s wat deur die Thai-vloot bekendgestel is, kan die seuns en hul afrigter gesien word wat sê hulle is oukei en gesond. Silwer foeliekomberse is om die seuns gevou om hulle warm te hou en sommige seuns lê in die agtergrond onder dié komberse en slaap. Daar kan ook gesien word hoe een van die vlootbeamptes geringe snye aan die seuns se voete en bene met antibiotiese salf behandel.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Reddingspanne en owerhede probeer steeds uitpluis wat die beste en veiligste manier sal wees om die seuns uit die oorstroomde grot te bring. Narongsak Osatanakorn, goewerneur van Chiang Rai, het Donderdag gesê die hele groep sal moontlik nie op dieselfde tyd uitgebring kan word nie. “Indien die omstandighede reg is en die persoon 100% gereed is, kan ons hom uitbring,” het Osatanakorn gesê.

Hy het gesê owerhede sal elke dag die veranderlikes en risiko’s oorweeg en die seuns word tans kans gegee om te herstel.

Een van die opsies wat oorweeg word, is om die seuns uit die grot te laat duik. Een van die reddingswerkers het aan verslaggewers gesê die seuns het reeds begin om te oefen om duikmaskers te dra en onder water asem te haal. Die seuns het egter nog nie probeer om enige oefen-duiksessies probeer nie.

Dit is nog nie duidelik wanneer een van hierdie duikpogings aangepak sal word nie, maar owerhede het reeds bevestig dat dit nie vandag sal wees nie. Daar word intussen steeds ondersoek ingestel na ander moontlikhede om die seuns uit die grot te kry aangesien die duik-opsie baie gevaarlik kan wees. Die 4 km-duik na die uitgang van die grot sal deur ysige en modderige water wees, iets wat selfs vir die vloot se spesiale magte gevaarlik was.

หลังได้ทานอาหารเพิ่มพลังงานที่หน่วยซีลดำน้ำนำเข้าไป และแพทย์ทหารที่ผ่านการฝึกในหลักสูตรนักทำลายใต้น้ำจู่โจมตรวจร่างกายทีมหมูป่าทุกคนแล้ว น้องๆส่งเสียงทักทายผู้คนที่รอคอยอยู่นอกถ้ำฝากมาครับ(บันทึกภาพ 03/07/18)#ทีมหมูป่าทีมSEAL#ThainavySEAL

Posted by Thai NavySEAL on Tuesday, July 3, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

D V ·

Ons is baie dankbaar dat almal in goeie toestand is en die owerheid so baie behulpsaam is.

White Rhino ·

Hier kom ‘n fliek.
Dankie tog dat hulle leef en veilig is.

Jacques ·

Ek kry sommer n knop in my keel om al die dankbaarheid te sien . Dankie Pappa in die hemel .

Undertaker ·

Dank se en Lof aan ons Hemel se Vader hulle almal is veilig

Nettie ·

Ai, Maroela, dit is optiese vesel internetlyn, nie veseloptiese internetlyn (intro-paragraaf) nie!

Basjan ·

Jy is skerp, ou Netie! Skerp soos ‘n blade (Blade Nzimande). Jy slaap seker in die messe-laai!

Sune van Heerden ·

Dagsê Nettie

Dankie vir jou terugvoer.
Dit wil voorkom of “optiese vesel” en “veselopties” as wisselvorme aanvaar word.
Ons het die berig gewysig om enige verwarring op te klaar.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Realisties ·

Dit is te gevaarlik vir die jong kinders wat nog nooit voorheen geduik het nie om so lang duiktog aan te pak . sjoe hulle lewens is nou gespaar . ek glo die reddingswerkers en spesialis duikers kan met ‘n beter opsie kom? Wat van ‘n kapsule wat die kinders twee twee of meer op ‘n slag kan gaan uithaal? Ek ken nou nie die omstandighede en of die plekke waardeur hulle moet swem baie nou is nie, maar genugtig ‘n jong kind van daardie ouderdom wat nog nooit geduik het nie sal in sy lewe nie ‘n 4 km duik oorleef nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.