Video: Jong seun se pleidooi aan boelies maak opslae

Keaton Jones (‘n Skermskoot uit die video)

ʼn Video van ʼn jong seun van die Amerikaanse deelstaat Tennessee wat emosioneel oor boeliery praat, is reeds deur meer as 20 miljoen mense wêreldwyd gekyk.

Dié video van die jong Keaton Jones het sedert die afgelope naweek soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

“Bloot uit nuuskierigheid: Hoekom boelie mense? Wat is die punt daarvan?” vra hy in die video wat sy ma op sy versoek geneem het. “Hoekom put jy genot daaruit om gemeen te wees met mense? Dis nie oukei nie.”

Sosialemediagebruikers het veral die “onsteltenis” in Keaton se ma stem uitgewys wanneer sy hom vra “waaroor” die kinders hom boelie.

Hy antwoord dan: “Hulle spot my oor my neus. Hulle sê ek is lelik. Hulle sê ek het geen vriende nie. Hulle gooi melk oor my uit, sit kouevleis in my klere en gooi my met brood.”

Sy ma vra dan: “Hoe laat dit jou voel?” waarna Keaton antwoord: “Ek hou nie daarvan dat hulle dit aan my doen nie. En ek hou verseker ook nie daarvan dat hulle dit aan ander doen nie, dis nie oukei nie. Mense wat anders is, hoef nie gekritiseer te word nie. Dis nie hulle skuld nie,” antwoord hy. “Maar as hulle met jou spot, moenie jou daaraan steur nie. Ek dink jy moet net sterk staan. Dis moeilik, maar dit sal seker eendag beter word.”

Verskeie bekendes het intussen dié boeliery teen Keaton en ander veroordeel. Bekendes het hulle tot sosiale media gewend om Keaton te ondersteun.

Die Amerikaanse akteur en filmmaker Chris Evans het Keaton op Twitter aanbeveel om “sterk te staan”. “Moenie toelaat dat hulle jou [verander] nie. Ek belowe jou dit raak beter. Terwyl daardie boelies in jou skool besluit watter tipe mense hulle op aarde wil wees, hoe sal jy en jou ma daarvan hou om intussen na die Avengers-première in Los Angeles te kom?” het hy geskryf.

Die aktrise Kaley Cuoco van The Big Bang Theory-faam het Keaton in ʼn video op Instagram na die stel van dié reeks genooi. “Keaton – ek sal graag jou vriend wil wees. Jy is enige tyd welkom op die stel van The Big Bang Theory. Ek kan nie glo dié tipe onsin gebeur steeds nie,” het sy laat hoor.

Die Kanadese akteur en skrywer William Shatner het gesê dié tipe gedrag behoort nooit aanvaar te word nie. “Elkeen van julle trolle daarbuite wat aaklige goed aan mense doen: Laat dié video jou goed voel? Of gaan jy hom nou ʼn boelie noem omdat hy onthul wat julle aan hom doen? Sommige sal nooit leer nie, maar selfs as net een [boelie] ʼn kopskuif maak, het die video sy doel gedien.”

Die sangeres Demi Lovato het gesê Keaton is maar een stem in ʼn onstuimige see van kinders wat daagliks geboelie word. “Weet net jy is nie alleen nie. Daar is so baie mense wat sterker aan die ander kant uitgekom het – en jy gaan een van hulle wees. God seën jou.”

“Jy is ʼn ikoon. Jy inspireer soveel mense met jou boodskap en jou egtheid,” het die sanger Justin Bieber in ʼn video laat hoor.

Ander bekendes soos Katy Perry, Patrick Adams, Idina Menzel en Jamie Alexander het Keaton ook op sosiale media ondersteun.

Bron: Washington Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jou vriendin ·

Dis so hartverskeurend, so gemeen, die arme kind, dis so n pragtige seun, kon nie help om saam met hom te huil oor die onreg wat hom aangedoen word nie. Wens ek kon iets vir hom beteken.

G ·

Ek het ook n gesplete verhemelte keaton my maat. Is ook gespot oor hoe ek praat en hoe ek lyk.
Dis maar net hoe die wêreld is. Vind jou berusting in die Here

Genieve ·

Ja dis nie mooi om ander kinders na te kom nie,dis seker die seerste as iemand jou spot as jy n gebrek het.Ek het self n kind en leer haar om nie ander kinders te na kom nie kinders is baie tasbaar as dit kom by bespotting van hul gebrek,hulle het ook gevoellens en dit maak seer.

Veronica ·

Mag n bekende Rolprent vervaardiger hierdie seun n kans gee van n leeftyd en hom n hoofrol te laat speel in n fliek oor ” Boelies ”
Laat hulle ( die boelies ) op hul neuse laat laat kyk !!!

Erika ·

Kinder boelies word volwasse boelies.
Hulle maak mens se lewe ‘n nagmerrie.
Het geen respek vir andere nie.
Hierdie is baie hartseer met baie emosionele trauma.
Daar behoort baie streng teen boelies opgetree te word. Hulle is geen aanwins vir die samelewing nie.

Vermeende ·

Die seun moet homself daaraan troos, een dag dan gaan hy vir jou baas en mineer se en dan gaan hy die genade wys wat hy nooit gehad het nie.
Dis nou ongelukkig hoe dit werk.

Kat ·

Boelies kom uit ongelukkige huishoudings.Sodra jy hulle aanvat hardloop hulle sterk tussen die bene weg en dan kom die kind wat geboelie was in die moeilikheid by die skool omdat vandag se hoofde nie die rugraat het om die boelie en die se ouers aan te vat nie.Staan sterk seun want jy gaan nog eendag die man wees wat aan die boelies werk gaan gee want die boelies maak dit gewoonlik nie in die buitewereld nie.Hulle moet dan gewoonlik vir iemand anders werk en leiers volg.Hulle kan nie wanneer hulle groot is leiding neem nie.

Marelise. ·

Hi. Ek is jammer om te se maar nie alle boelies kom uit ongelukkige huishoudings uit nie. My kind is al van kleuterskool af geboelie en het duidelik eendag besef dis makliker om te boelie as om geboelie te word. As ma, sit ek nou met n baie emosionele en aggressiewe kind agv wat aan hom gedoen is en ondergaan behandeling om sy emosies te beheer. So asb, dis nie altyd die situasie nie

Gatvol ·

Ek is bevrees dis ‘n wanpersepsie dat boelies uit ongelukkige huise kom. Boelies doen wat hulle doen want hulle kom daarmee weg en dit laat hul magtig voel.

Nicci ·

Omtrent in elke skool, naskool sentrum is daar boelies. Die ouers moet luister as hul kinders praat voordat dit te ver gaan. Doen die moeite en gaan in op die saak en staan by jou kind. Gaan sien die onderwysers en as hul niks daaromtrent doen nie, die Hoof van skool. Daar moet streng teen sulke boelies opgetree word.

Max ·

My kleinseun is deur sy beste maatjie, nou x maatjie geboelie. Hy het gedruip weens goed wat hy moes deurmaak. Die maat het vir hom gesê hy meng nie met druipelinge nie. My kleinseun wil nie weer teruggaan skooltoe nie. Selfs vd onderwysers/esse en die wat kinders met probleme moet help het vir hom gesê, trek op jou sokkies of jy is uit die skool. Ons is nie ryk plaasboere nie.

RianaD ·

My seuntjie (6) is die hele jaar verneder en kleineer, ook deur sy “beste” maaitjie.
Ons hou hom ‘n jaar agter (Gr. R word herhaal) agv ‘n gehoor probleem en toe die rapporte uitgedeel word, sal die “maaitjie” vir homvoor almal spot en lag en vertel hy is dom onnosel. Hier sit ek nou met ‘n kind wat afgekraak word, elke liewe dag, en ek moet SUKKEL by die huis om my kind se selfbeeld op te bou. Ek weet dat alle boelies se ouers nie bewus is dat hulle kinders miskien ‘n boelie is nie maar asb, die kinders wat wel geboelie word, Mamma & Pappa, GLO jou kind asb. Ek is self geboelie op skool en ek wou selfmoord pleeg, my pa het my geglo en hy kon intree, ander kinders is nie so gelukkig nie. Grootmense kan net sulke boelies wees. Watse genot put jy uit dit om ‘n ander persoon tot op die spreekwoordelike been af te kraak en te verneder? Hoe sou jy voel as dit met jou gebeur? Soos ek geleer is. DINK voor jy iets sȇ, en as jy NIKS goed kan sȇ nie : BLY STIL. Eenvoudig genoeg.

Peet Schabort ·

Ongeag die tekortkominge wat ookal van die een wat geboelie word is dit die boelie wat toetentaal heeltemal abnormaal en vieslik is. Soos reeds gesê is daar dalk ook finansiële bystand van die boelie-ouer(s) se kant vir die skool se voortbestaan en nou raak dit moeilik vir die onderwyser(s) om hul plig te doen. Dit werk mos so in ons samelewing dat die een wat betig word dadelik op sy/haar agterpote staan.

Wnel ·

Ek was my hele laërskool loopbaan deur geboelie en in gr8 het ek genoeg gehad en terug geveg. Ek was vir drie daë geskors maar ek het nooit weer ‘n probleem met die ou gehad nie. Boelies maak staat daar op dat jy nie bereid is om terug te veg nie en hulle gee nie ‘n dam om oor wat onderwysers te sê het nie.

Riana ·

Die hartseer is die feit dat die kind wat boelie by die huis op een of ander manier geboelie word…. hetsy emosioneel of fisies. Slegsê deur die ouer is maar een voorbeeld. Wat nog te sê as ouers kinders fisies verwaarloos. Die wêreld is boos!

Joe ·

Dis tragies maar so waar. Baie hartseer. My Seun was een van die “cool” kinders op skool en ek het hom geleer om op te staan vir dit wat verkeerd is en so het hy ook teen die boelies op gestaan en vriende gemaak met die kinders wat geboelie was. Hy het hulle op gepas en baie keer selfs saam hulle huis toe geloop. Hy was later nie meer deel van die “cool” groep nie maar hy was absoluut okay daarmee. Vandag swot hy teologie en volgende jaar sy laaste jaar.

Antie ·

Ek het nie mooi voete nie en eendag in die teekamer by die werk, maak ‘n vrou (nogal mooi van aansien) ‘n aanmerking dat ek baie lelike voete het. My antwoord aan haar was dat ek my voete in mooi skoene kan wegsteek, maar wat gaan sy met haar gesig maak? Dit was die laaste wat sy lelike aanmerkings oor enige iemand gemaak het, nadat almal haar in die teekamer uitgelag het!

Nog steeds ·

Was ‘n tyd gelede by ‘n skool reunie. Was goed geboelie, nie deel van die ‘koel’ groep nie. ‘Ouer’ mense kan ook boelie, nie net kinders nie.
So wrintie waar die boelies van toeka probeer nog steeds ‘n swak plek kry en karring aan met hulle twak. Geen effek nou nie. Hierdie mense glo werklik dat dieselfde boelie metodes wat vir hulle in die 1970’s gewerk het se gifpyle gaan tref.
Die mense wat toe gaaf was is nog steeds gaaf. Opmerking is dat meeste mense blykbaar nie verander of groot word nie. Andersins val hulle terug in ou gewoontes vir 1 aand.
Lekker gelag vir hulle.

Gatvol ·

Ja, en die boelies hou aan tot jy die dag doodgaan. My hele lewe lank het ek deurgeloop. Heng, op skool het sekere onderwysers my geteiken ten spyte van die feit dat ek akademies baie goed gedoen het. Glo my, nie een van die sogenaamde maniere om boelies te keer, werk nie. Daar is ALTYD iemand hoër op wat hulle beskerm.

koos de larey ·

Nee wat my maat , toe ek te klein was om teen boelies op te staan het die Here altyd gesorg dat daar iemand was wat my gehelp het , vandag is ek die een wat ander help , jy kan altyd kies ,
soos die amerikaners se ” sheep, wolf , sheepdog, you choose which you want to be , but sheep get eaten , wolfs eventually get shot …..

Lara ·

My 3 jarige is geboelie by haar kleuterskool en toe Ek dit met die skool opvat is daar net vir my gese sy jok. Ek het toe besluit om haar vir terapie te vat want Ek kon sien iets is anders in my kind. En Ja toe kom dit uit dat dit meer en erger was as net boelie. So mense luister as jou kinders vir jou se iets is fout. Dis nou 6maande later en die gebeure raak ons kindjie nog elke dag, terwyl die skool net weier dat iets kon gebeur het. Dit breek my hart as Ek dink kinders moet deur sulke goed gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.