Video: Kaptein verlaat sinkende veerboot

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die video volg onderaan die berig. Die kuswag in Suid-Korea het Maandag beeldmateriaal vrygestel van ʼn kaptein wat die sinkende veerboot verlaat en na sy veiligheid skarrel terwyl honderde passasiers steeds binne die boot vasgekeer was.

Die video is deur reddingsbeamptes geneem en op YTN-nuuskanaal uitgesaai. Kaptein Lee Joon-seok (69) het slegs ʼn langmouhemp en sy onderbroek aangehad toe hy haastig die sinkende skip verlaat het.

Die Sewol-veerboot het op 16 April met meer as 476 persone aan boord omgeslaan. Altesaam 113 liggame word nog steeds vermis. Die amptelike dodetal staan op 189. Meeste van die persone wat vermis word of gesterf het, was hoërskoolleerlinge. Die adjunkhoof van die skool wat se leerlinge in die ramp omgekom het, het selfmoord gepleeg na hy self van die sinkende skip gered is.

Al 15 oorlewende bemanningslede wat die veerboot bestuur het, is in aanhouding en staar aanklagte van nalatigheid in die gesig en word daarvan beskuldig dat hulle die passasiers verlaat het.

Familielede van die slagoffers het die amptelike reaksie oor die ramp skerp gekritiseer en gesê die vertraging om die sinkende skip te betree het moontlik die slagoffers van hul laaste kans beroof om te oorleef.

Sterk systrome verminder egter die kans om die vermiste liggame op te spoor.

Eerste minister Chung Hong-Won het Sondag sy bedanking ingedien en erken hy het nie die amptelike reaksie voldoende hanteer nie. President Park Geun-Hye het hom egter versoek om in sy pos aan te bly totdat die reddingspoging afgehandel is.

ʼn Tienerseun aan boord het glo die noodoproep uitgestuur, ʼn paar minute voordat die veerboot sy eerste noodsein aan seebeheerbeamptes gestuur het. Die seun is glo tydens die oproep oorval met vrae oor die veerboot se koördinate en die aantal mense aan boord. ʼn Beampte van die kuswag het later aan verslaggewers gesê hulle het hom met ʼn bemanningslid verwar nadat sy telefoonoproep van ʼn ander noodsentrum na hulle oorgeskakel is. –SAPA-AFP

Die video volg onderaan die berig.

Lees ook:
Veerbootramp: Duikers begin lyke verwyder
Veerbootramp: Kaptein, bemanning vas
Adjunkhoof pleeg selfmoord na veerbootramp
Nog 107 vermis ná passasierskip omslaan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.