Video: Prinses van Wallis kondig aan sy het kanker

Die videoverklaring wat Catherine, prinses van Wallis, gedeel het. (Foto: BBC Studios/AFP)

Catherine, prinses van Wallis, het kanker.

Kate, soos sy alombekend is, het Vrydag in ʼn roerende video aangekondig dat sy is in die vroeë fases van chemoterapie is. In die video, wat op sosiale media gedeel is, vra sy ook vir “tyd, ruimte en privaatheid” terwyl sy haar behandeling voltooi.

Die prinses sê die kanker, wat ontdek is nadat sy in Januarie suksesvolle chirurgie aan haar buik ondergaan het, was ʼn “reuseskok”, maar dat dit met haar goed gaan en dat sy “elke dag sterker word”.

Die 42-jarige prinses het nie die presiese omvang van die diagnose bekend gemaak nie, maar het die laaste paar maande, sedert sy in die hospitaal opgeneem is, as “ongelooflik moeilik” vir haar en haar gesin beskryf.

“In Januarie het ek ingrypende abdominale chirurgie in Londen ondergaan en in daardie stadium is daar gedink dat my toestand nie kankeragtig is nie,” het sy in die videoverklaring wat Woensdag by Windsor opgeneem is, gesê.

“Die operasie was suksesvol. Toetse ná die operasie het egter gewys dat kanker teenwoordig is.

“My mediese span het dus aanbeveel dat ek voorkomende chemoterapie ondergaan en ek is nou in die vroeë fases van daardie behandeling.”

Rishi Sunak, die Britse eerste minister, het die prinses geloof vir die dapperheid wat sy met die verklaring getoon het en sê sy het die “liefde en steun van die ganse land terwyl sy op die herstelpad is”.

Die Withuis het ook ʼn boodskap van ondersteuning gestuur.

Afwesig

Catherine, een van die wêreld se mees gefotografeerde vroue, is ʼn sentrale figuur in die koninklike familie en is in 2011 getroud met prins William, die 41-jarige Britse troonopvolger.

Die egpaar het drie kinders: prins George (10), prinses Charlotte (8) en die vyfjarige prins Louis.

Catherine sê dit het tyd geverg om die situasie aan hul kinders te verduidelik en aan hulle “die versekering te gee dat ek oukei gaan wees”.

“Soos ek vir hulle gesê het; dit gaan met my goed en ek word elke dag sterker deur te fokus op die dinge wat my gaan help genees – in my verstand, liggaam en gees,” het sy gesê.

William en Catherine en hul jong gesin word gesien as die moderne gesig van die stokoue instelling – en die sleutel tot die toekoms van die monargie.

Catherine is die laaste keer op Kersdag by ʼn openbare byeenkoms gesien toe sy saam met haar skoonpa, koning Charles III, en ander senior koninklikes ʼn Kersdag-kerkdiens bygewoon het.

Haar kantoor by die Kensington-paleis het op 17 Januarie bekend gemaak dat sy tot twee weke in die hospitaal kan wees en maande lange herstel nodig gaan hê nadat sy ʼn suksesvolle buikoperasie ondergaan het.

Sy sou na verwagting eers ná Paasfees, op 31 Maart, weer haar openbare pligte opneem, het die verklaring gelui. Koninklike amptenare het toe nie die presiese aard van haar toestand bekend gemaak nie, maar gesê dit hou nie met kanker verband nie.

Koning se diagnose

Die aankondiging is gedoen kort voor ʼn afsonderlike verklaring deur Buckingham-paleis dat die 75-jarige Charles ʼn operasie vir ʼn nie-kwaadaardige vergrote prostaat sou ondergaan. Hy was later drie dae lank in dieselfde private hospitaal in die Londense middestad. Amptenare het vroeg in Februarie gesê toetse het ʼn “vorm van kanker” uitgewys, maar geen verdere besonderhede is verskaf nie.

Die koning het alle openbare verpligtinge opgeskort, behalwe vir oudiënsies met die eerste minister en ambassadeurs. Hy hanteer amptelike dokumentasie terwyl hy behandeling ondergaan.

Charles is sedertdien verskeie kere afgeneem, onder meer op pad kerk toe.

Daar was die afgelope ruk egter hewige bespiegeling – veral aanlyn – oor Catherine se gesondheid en waar sy haar bevind.

Sy is nie gesien waar sy by die hospitaal aankom of die fasiliteit verlaat nie en William is net een keer by die hospitaal opgemerk.

Gerugte en skinderstories het verlede week veral begin versprei nadat sy ʼn Moedersdagfoto gedeel het wat later as digitaal gemanipuleer uitgewys is.

Catherine, wat self al verskeie amptelike foto’s geneem het wat aan die media versprei is, het in ʼn verklaring ʼn verskoning hiervoor aangebied nadat verskeie invloedryke nuusagentskappe, ook AFP, die foto onttrek het.

ʼn Week later het die Britse media nuwe foto’s van die prinses gedeel waar sy saam met William ʼn boeremark naby hul huis in Windsor, wes van Londen, besoek het.

Vandeesweek was daar bewerings dat ʼn poging aangewend is om toegang tot die prinses se vertroulike mediese rekords te kry. Die kwessie is na die Britse inligtingswaghond verwys.

Prinses Catherine by een van die laaste openbare geleenthede waar sy gesien is. (Foto: KensingtonRoyal/X)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.