Video: Kerk lok lidmate met gratis gewere

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

‘n Video volg onderaan die berig. Baptiste-kerke in Kentucky gee glo vuurwapens as pryse weg in dié suidelike staat van Amerika om lidmate te lok.

Lone Oak First Baptist Church hou Donderdag sy volgende “geloof en vuurwapens”-geleentheid en het die gemeenskap van Paducah genooi om ʼn gratis biefstukete te geniet en die kans te staan om een van 25 vuurwapens te wen. Dit sluit handwapens en haelgewere in. Die vuurwapens is aan die kerk geskenk om as pryse uit te loof.

Die doel is om “mense na Christus te lei” terwyl hulle ook vuurwapenregte en die buitelewe vier, het die kerk gesê.

Prediker Chuck McAlister, wat in ʼn stadium ʼn gewilde jagprogram op die Outdoor Channel aangebied het, is die gasspreker vir die dag. McAlister se bediening “draai rondom God, vuurwapens en goeie ouens [good ol’ boys]” en het die afgelope twee jaar glo al meer as 3 000 mense na Christus gelei, aldus ʼn rubriek op die byeenkoms se webwerf.

Nancy Jo Kemper, pastoor van die New Union Church in Versaille het die geleentheid as ʼn “bespotting” beskryf. “Kerke moet nie mense in hul gemeenskappe aanmoedig om hulself teen hul naaste te bewapen nie, maar om hul naaste lief te hê, soos Jesus gepreek het,” het sy aan die Louisville Courier-Journal gesê. “Dit sou vreeslik wees as een van daardie vuurwapens, wat by die kerk uitgedeel is, tot ʼn onskuldige persoon se dood sou lei.”

McAlister hou vol dat vuurwapens ʼn wonderlike manier is om die ongelowiges te bereik. “Mens moet weet wat mense sal aantrek, en jag is baie groot in Kentucky,” het hy aan die koerant gesê. “Ons breek winde op en krap en praat oor die reg om vuurwapens te besit en so aan,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.