Bemanningslede van ’n Griekse veerboot het vandeesweek ’n dogtertjie op ’n reuse-opblaasstoel in die vorm van ʼn eenhoring uit die see gered nadat sy deur sterk seestrome op dié drywende “bootjie” die see in getrek is.
Die voorval het Maandag aan die kus van die stad Antirrio in die Golf van Korinte plaasgevind.
Greek City Times berig die dogtertjie van tussen vier en vyf jaar oud het haar ouers se aandag ontglip en op haar eenhoring-opblaasbootjie van die strand af weggedryf.
Die ouers het dadelik die plaaslike haweowerheid se hulp ingeroep toe hulle nie hul kind kon opspoor nie wat op hulle beurt die kaptein van ’n plaaslike veerboot in kennis gestel het.
“Ek het die hawe van Antirrio genader en die haweowerheid het my in kennis gestel dat ʼn kind, wat ek nie verwag het om só klein te wees nie, deur die seestrome van ʼn nabygeleë strand die see in getrek is,” het Grigoris Karnesis, kaptein van die veerboot, gesê.
Karnesis kon daarin slaag om die dogtertjie op te spoor van waar sy meer as 500 meter van die kus op haar eenhoring-opblaasbootjie in die see rondgedobber het.
Volgens Karnesis was die dogtertjie angsbevange. Sy het nie gepraat nie, maar gehuil toe sy die veerboot sien aankom.
“Ek het die skip so geposisioneer dat dit nie die klein opblaasbootjie kon beïnvloed nie, want as die bootjie sou sink, sou ons ernstige probleme gehad het. Ons het dit stadig aangepak en ons kon die kind red.”
Die kind is deur bemanningslede op die veerboot gebring en later aan haar ouers terugbesorg. Die kaptein vertel dat die bemanningslede aan boord snaakse gesigte getrek en grappies gemaak het sodat die dogtertjie kon ontspan.
“Gelukkig het alles goed verloop,” het Karnesis gesê.
Ok, this is terrifying.
A 4-year old girl was found drifting nearly a mile out to sea — off the coast of Greece — on an inflatable unicorn.
Wow…pic.twitter.com/xxN4M6bbXp
— Rex Chapman???????? (@RexChapman) August 27, 2020
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Wonderwerk, dankie aan die bemanning
Ongelooflik!!!Dankie vir n positiewe stukkie nuus wat weer n glimlag op my gesig kon sit. Hoe angsbevange moes die ou dingetjie nie gewees het nie. So so dankbaar sy kon gered word.
Wegloop op die ouderdom en dit op die see werk nie !
Dankie Vader vir Engele soos die !!!
O DIT moes verskriklik gewees het vir daai arme kind en nie eers te praat van die ouers nie. So bly hulle kon die dogtertjie red