Video: Kleuter onderbreek minister-ma se Facebook-uitsending

’n Skermskoot van Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se eerste minister, se regstreekse uitsending op Facebook.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, was Maandag besig om die land oor die jongste Covid-19-beperkings op Facebook toe te spreek toe haar kleuter, Neve (3), dié regstreekse uitsending onverwags onderbreek het.

Die voorval is intussen wyd op sosiale media gedeel.

Op die uitsending kan gehoor word hoe die kleuter al te oulik “Mammie” sê sowat sewe minute nadat Ardern met haar uitsending begin het.

“Jy is veronderstel om in die bed te wees, liefling,” sê Ardern glimlaggend, maar duidelik verras met Neve se skielike verskyning.

“Nee,” antwoord die kleinding dan terug.

“Dis bedtyd, liefling, spring gou terug in die bed. Ek is oor ʼn minuut by jou,” onderhandel Ardern met haar kleuter.

Sy vra dan om verskoning aan haar kykers en skerts hoe sy gedink het dit is die perfekte tyd om ʼn vinnige Facebook-uitsending te doen.

“Wel, dít was ʼn slaaptydmislukking, was dit nie? Ek het gedink dit is ʼn oomblik wat ek het om ʼn regstreekse uitsending te doen – dit sal lekker en veilig wees. Het iemand anders kinders wat sowat drie, vier keer ná slaaptyd ontsnap? Gelukkig is my ma hier om te help.”

Die minister het egter skaars haar aankondigings hervat, toe die stemmetjie weer verskyn.

“Wat vat so lank?” vra klein Neve in die agtergrond.

“Ek is jammer dat dit so lank vat, skat,” antwoord Ardern.

In dié stadium het die minister besef dat sy maar liefs handdoek sal moet ingooi.

“Goed, ek is jammer almal. Ek gaan maar vir Neve in die bed terugsit – dis lankal verby haar slaaptyd. Dankie dat julle by my aangesluit het.”

Die video op Ardern se Facebook-blad is al meer as 330 000 keer gekyk, terwyl die media ook wyd daaroor berig het.

Die politieke kenner, Robert Kelly het in 2017 ook vir groot vermaak gesorg toe sy kinders skielik tydens ʼn onderhoud met BBC by sy kantoor ingebars en die kollig gesteel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marisa W ·

Fantasties hoe ‘n Eerste Minister in ‘n oogwink in ‘n Mamma verander – pragtig :)

JohanR ·

As dit Cyril was dan sou dit sy aangenome seun Julius gewees het, wat die kamer binne gekom het.

Blikkies ·

Ek sien so in my verbeelding hoe dit sou gaan as dit by ons gebeur het…..Brrrr..

Lida ·

Ook net n mamma soos so baie van ons. Met groot verantwoordelikheid op haar skouers wat sy met trots uitvoer en haar mense veilig hou en respekteer. So goed opgevoed en in beheer. Selfs met sussie wat ook n bietjie aandag soek.
Well done Jacinda????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.