Video: Kragtige kykers vir kiekies én klets

Ray-Ban en Facebook het kragte saamgesnoer om ’n brilreeks bekend te stel waarmee jy kan kiekies en kort video’s neem, na musiek luister en selfs oproepe maak. (Foto: Techcrunch)

Danksy die brilhandelsmerk Ray-Ban en Facebook is die dae binnekort verby wat jy vir jou foon moet vroetel om ’n vinnige foto te kan neem.

Dié twee groepe het kragte saamgesnoer om ’n brilreeks bekend te stel waarin jy nie net fyngevat sal vertoon nie, maar jy kan kiekies en kort video’s neem, na musiek luister en selfs oproepe maak.

Die reeks, genaamd Ray-Ban Stories, bied ’n keuse uit drie ikoniese rame, vier kleure en ses lenssoorte, liggewig en kompleet met ’n laaikassie. Boonop kan dit volgens jou (oog‑) voorskrif vervaardig word.

Die bekendstellingsprys in die VSA van $299 (sowat R4 200) sal waarskynlik nie almal na hul naaste winkel laat haas om dié somervakansie in styl te pronk nie, maar tog hoop Facebook en EssilorLuxottica, die brilreus wat die Ray-Ban-handelsmerk besit, dat mense dit as meer as ’n foefie sal sien.

Ray-Ban Stories se pasmaat is ’n app genaamd Facebook View, wat jou in staat stel om foto’s en video’s te besigtig, redigeer en deel. (Foto: Verskaf)

Ray-Ban Stories volg ná verskeie maatskappye se pogings om genoeg ore vir hul slimbrille te kry, in skerwe geëindig het. Google het in 2012 sy Google Glass uitgerol, maar modebewustes het hul neuse opgetrek vir die volksvreemde vorm en sy gla(n)s het gou verdof.

Later het maatskappye soos Bose, Snap en Amazon soortgelyke produkte probeer uitrol, maar ook sonder kommersiële sukses, berig CNN.

Wat Ray-Ban Stories anders maak as vorige pogings, is die feit dat die tegnologie geheel en al in die raam geïntegreer is. Pragtig én prakties. Privaatheid is egter ’n perd van ’n ander kleur en is ’n pakslae waarvoor Facebook gereeld moet pa staan.

Facebook sê egter slegs video’s van 30 sekondes lank kan geneem word en dat dit van ver af sigbaar is as iemand besig is om ’n video (van jou) te neem. Dié groep sê hy het tydens die ontwikkeling- en vervaardigingsproses met verskeie privaatheidskenners gekonsulteer en meen die draers van die bril moet ander bewus maak van die feit dat hulle dalk op ’n foto of video vasgevang kan word.

Of Ray-Ban en Facebook se vennootskap vrugte gaan dra, en tegnologie en tendense se troue gaan hou, sal ons moet wag en sien. Maar dit is dalk die eerste modieuse en visionêre tree op die pad na vietse versterkterealiteitlense, iets waarop Apple vir seker sy visier het.

Kyk self:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanncb

Ek onthou, in die dae van die vroeë James Bond rolprente, was hierdie tipe bril reeds realiteit!

Henk

Ek het reeds in 2007 so ‘n bril gekoop, Die lengte van die video word slegs beperk deur die stoorkapasiteit van die mikro-SDkaart. wat jy ingesit het. Ek het heel rugbywedstryde daarmee afgeneem, klank en die lot. My beste video was van “mamma” toe sy vir my kwaad was ,en sy haarself na die tyd kon sien.

Hennie J

Hey!!! Mark Condor is op pad terug!

Frank John

Klink vir my na ‘n James Bond of Mark Condor storie.