Video: Krok gryp vrou by kinderpartytjie  

Dié krokodil het ’n vrou tydens ’n kinderpartytjie by die Tails and Scales-dieretuin aan die arm beetgekry. (Foto: Facebook / Scales and Tails)

ʼn Kinderpartytjie by die Scales and Tails-dieretuin in Utah, VSA, het die afgelope naweek ʼn nare verloop gekry toe ʼn Amerikaanse krokodil (alligator) ʼn hanteerder aan die arm beetgekry het.

Die vrou, wie se naam en ouderdom nie bekend gemaak is nie, was besig om die krokodil na sy kamp, wat met glas toegemaak is, terug te neem toe die reptiel haar ten aanskoue van kinders en ander partytjiegangers aan die arm gryp, in die water pluk en in die rondte swaai.

ʼn Dapper partytjieganger, wat intussen deur internasionale media as Donnie Wiseman geïdentifiseer is, het egter vinnig ingespring om die vrou uit die krokodil se greep te red.

ʼn Video van die voorval, wat deur Wiseman se vrou, Theresa, geneem is, is sedertdien wyd op sosiale media gedeel.

In die video kan gehoor word hoe Wiseman skree “ons het moeilikheid hier”. Hy spring kort daarna op die krokodil se rug en spook dan met behulp van nóg ʼn gas, Todd Christopher, om die vrou se hand uit die krokodil se bek te bevry.

Die vrou het sélf, te midde die chaos, mondelings aan Wiseman en Christopher leiding gegee oor wat hulle moet doen.

Scales and Tails het die mans op hul Facebook-blad vir die heldedaad bedank.

“Om met dié diere te werk, gaan met risiko’s gepaard wat ons as personeel aanvaar.

“Hierdie mans kon in die veiligheidsone gebly het, maar het, soos baie van ons seker sou, gekies om in te spring en die krokodil in bedwang te bring. Hulle hulp, saam met die opleiding van die hanteerder, het waarskynlik haar lewe en ledemate gered.”

Christopher se vrou, Amy, kon danksy haar verpleegagtergrond die nodige noodhulp doen terwyl daar op die nooddienste gewag is.

Scales and Tails het ook namens die slagoffer ʼn boodskap oor haar toestand in hul jongste inskrywing op Facebook geplaas.

“Ek was gelukkig om by ʼn hospitaal te land wat waarskynlik die beste ortopediese chirurg in Utah in sy diens het. Hy het geïmproviseer en met ʼn oplossing vorendag gekom wat my in staat sal stel om die volle gebruik van my hand te behou.”

Volgens Scales and Tails gaan dit goed met dié werknemer. Sy is steeds in die hospitaal, maar reeds op die herstelpad.

Dit is nie duidelik wat die aard van haar beserings is of wanneer sy ontslaan sal word nie.

Alligator attack at Scales and Tails Utah

VIDEO: Alligator attack at the roadside zoo Scales and Tails Utah on 8/14/2021. The handler in the video is recovering. Video shared courtesy of Facebook/Theresa Wiseman#AlligatorAttack #ScalesAndTailsUtah #RoadsideZoo #AnimalAttack

Posted by Roadside Zoo News on Monday, August 16, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Krokodil by kinderpartytjie…wow

Tipper

Spreuke sê,kan jy met hom speel soos n voëltjie,bly die persoon is ongedeerd.

Johann

Mmmmmmm? Nuwe dimensie aan Petting Zoo. En jammer om.te hoor…WAT HET SY GEDINK???????

Zhara

WANNEER GAAN MENSE LEER N KROKODIL KAN NIE MAK GEMAAK WORD NIE

Misky

Sjoe, dis angswekkend en daai man is ongelooflik kalm en het kop gehou!!!! Nie eens Crocodile Dundee het dit sonder sy “stuntman” reggekry nie, lol