Video: Lande reik reiswaarskuwing na Hongkong uit

Betogers in Hongkong Foto: 蘋果日報, Facebook (media-agentskap)

Betogers in Hongkong Foto: 蘋果日報, Facebook (media-agentskap)

Minstens twee lande, Australië en Italië, het hul burgers gewaarsku dat dit onveilig is om na Hongkong te reis.

Hongkong word nou al dae lank deur pro-demokrasiebetogings geteister, nadat China geweier het dat kandidate van keuse in die komende verkiesing vir ’n gebiedsowerheid gestel kan word.

Van die vernaamste toegangsroetes van die finansiële middestad was Maandagoggend steeds gesluit na duisende betogers van vroegdag af weer die strate beset het, en konfrontasie met die polisie afgewag het.

Die Chinese polisie het tot dusver traangas, pepersproei en knuppels ingespan, en sal na verwagting binnekort ook rubberkoeëls inspan om die betogings hok te slaan. Van die betogerleiers het reeds hul ondersteuners gemaan om terug te val en hul eie lewens te red wanneer rubberkoeëls afgevuur word.

Van die betogerleiers is ontevrede omdat die polisie met geweld – al is dit net met traangas, op hul vreedsame betogings reageer.

In hierdie stadium versprei die betogings na ander dele van die stad, en dit lyk of die betogers sodoende beplan om die polisie se beskikbare mannekrag tot die uiterste te rek.

Die Chinese regering het sy volle steun aan die polisie toegesê en die betogings as onwettig beskryf.

Intussen lui verskeie berigte dat China Facebook se foto-deelgerief, Instagram, in China gesluit het.
Bronne: Verskeie berigte van Yahoo News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.