Video: Man ry teen 417 km/h in ʼn Bugatti

Radim Passer in sy Bugatti Chiron (Skermgreep uit die video)

Kar-mal Duitsland is bekend vir sy autobahns waar daar nie spoedlokvalle is nie. ʼn Tsjeggiese sakeman se rit waar hy ʼn topspoed van 417 km/h gehaal het, word egter nou ondersoek.

Die staatsaanklaer se kantoor in Stendal in die noordelike staat van Sakse-Anhalt, het gesê hy stuur ʼn ondersoek van stapel oor ʼn moontlike onwettige resies.

Radim Passer, die welgestelde eienaar van die Bugatti Chiron, het video’s van die rit op YouTube gedeel waar dit groot reaksie uitgelok het.

“Ons is dankbaar vir die veiligheid en goeie omstandighede,” het Passer in die beskrywing by die video geskryf. Die span het voor die rit gebid vir hul veiligheid en ná die tyd weer dankie gesê dat alles glad verloop het.

Sommige van die video’s wys ʼn virtuele spoedmeter wat 417 km/h haal op die stuk pad tussen Berlyn en Magdeburg, wes van die hoofstad.

Die Bugatti Chiron tydens die “toetsrit” (Skermgreep uit die video)

Alhoewel die video’s al in Julie 2021 verfilm is, is dit eers onlangs aanlyn gedeel. Dit is intussen reeds miljoene keer gekyk.

In reaksie op kommentaar dat die rit “onverantwoordelik” en “gevaarlik” was, se Passer hy het “baie goeie sigbaarheid” gehad en klem gelê op Bugatti se remvermoë. Hy het ook die motor voor die tyd vir Bugatti gestuur om ʼn deeglike ondersoek te doen en seker te maak die motor is gereed om ʼn topspoed te haal.

Daar is slegs ʼn aanbevole spoedbeperking van 130 km/h op die autobahn. Dis nie onwettig om vinniger te ry nie, maar indien ʼn ongeluk gebeur, kan ʼn bestuurder se aanspreeklikheid verhoog, gebaseer op die spoed – ongeag of die bestuurder skuldig is of nie.

Hoofwegpolisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná daar wyd in die media berig is oor die prestasie. Die uitslag is aan die staatsaanklaer se kantoor oorhandig, en daar is begin met ʼn regsassessering oor die voorval.

Volgens die strafreg kan ʼn solo-rit steeds as ʼn onwettige resies geklassifiseer word “as die bestuurder ʼn onbehoorlike spoed haal wat die verkeerskode oortree en as roekeloos beskou word”.

Volker Wissing, Duitsland se minister van vervoer, het die bestuurder se houding veroordeel. Hy sê daar is nie ʼn spoedbeperking nie, maar die motor “moet altyd onder beheer wees”.

Ander het die voorval gebruik as ʼn rede waarom ʼn spoedbeperking ingestel moet word, insluitend die premier van Nedersakse, Stephan Weil. Hy het aan Spiegel-tydskrif gesê “daar is baie goeie redes” hoekom daar ʼn spoedbeperking op snelweë moet wees, insluitend die omgewing en veiligheid.

Passer het in 2018 met sy Bugatti Veyron ʼn topspoed van 402,5 km/h gehaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Jy kan sien dis vervals want daar’s nie ‘n ou Volvo stasiewa met ‘n reuse Turbo wat verbygejaag kom nie.

Marius

Jy mag so vinnig ry as wat jy wil of kan op die autobahn. Wat moet nou ondersoek word ? Oiii !!!

Misky

As hy nog 5km vinniger gery het, het hy opgestyg soos ‘n vliegtuig – ha ha ha.

Ek natuurlik slaan net daar neer….. morsdood!!!

piet

Dit lyk of die ander karre stilstaan. Die kar se enjin raas nie eers nie, net ‘n gesonde brul. Ek wil egter nie sien hoe dit lyk as jy op daai spoed ‘n ongeluk maak nie. Ook nogal ‘n waagstuk om teen daai spoed so naby die reeling te jaag.

Johan

Ek dink daar is ñ goeie rede dat sy sitplek met plastiek oorgetrek is… lol