ʼn 20-jarige man is dood en 13 beseer toe ‘n weerligstraal mense op die strand van Venice Beach by Los Angeles getref het.
Die slagoffer was in die see toe hy getref is. Hy was eers vermis ná die donderslag, maar is vinnig, met sy gesig na onder, op die seebodem gevind. Nooddienswerkers het hom dadelik bygestaan. Hy is egter in die hospitaal oorlede.
Nege mense is na die hospitaal geneem, waar een steeds in ‘n kritieke toestand verkeer. Die meeste van die ander mense wat getref is, sal geen blywende skade of beserings oorhou nie, aldus die nooddienswerkers.
‘n Veertiende persoon, ‘n 57-jarige man, is deur die weerlig op ‘n nabygeleë gholfbaan neergeval, maar verkeer in ‘n stabiele toestand.
Die voorvalle het gebeur toe ‘n seldsame somer-donderstorm oor die suide van Kalifornië getrek het.
Stuart Archer was besig om strandvlugbal te speel toe hy getref is. Hy het aan KABC-TV van sy ervaring vertel. Dit het gevoel of hy agter die kop geklap is, en dit het gevoel of die regterkant van sy liggaam versteen het. Hy het gesien hoe die ander spelers neerslaan.