Video: Massamoordenaar se dodelike wraak op vroue

Elliot Rodger (skermskoot uit die video)

Elliot Rodger (skermskoot uit die video)

Elliot Rodger (22) wat Vrydagaand ses mense in ‘n moordorgie in Kalifornië, Amerika doodgeskiet het, het voor die voorval ‘n video opgelaai waarin hy verklaar dat hy vroue gaan “slag” uit wraak omdat hulle nie tot hom toegeneë gevoel het nie.

Rodger sê in die video hy voel seksueel gefrustreerd, alleen en treurig.

Rodger het Vrydagaand eers drie mans by sy woonstel met ʼn skerp voorwerp doodgesteek, voordat hy in sy swart BMW lukraak op voetgangers by verskeie liggings in Isla Vista, Santa Barbara, losgebrand het. Twee vroue is buite ʼn dameskoshuis doodgeskiet en nog een persoon is buite ʼn deli doodgeskiet. Sewe mense is tydens die wilde skietery beseer.

“Julle verdien om uitgewis te word, en ek sal dit vir julle gee,” sê hy in die video. “Julle het nooit genade aan my betoon nie, so ek sal vir julle geen genade gee nie. Julle het my gedwing om my hele lewe lank swaar te kry, en nou sal ek seker maak dat julle almal swaarkry. Ek wag al lank hiervoor.”

Ná ‘n skietery met die polisie is hy dood aangetref in sy swart BMW. Hy het ‘n skietwond in sy kop gehad en die polisie vermoed hy het selfmoord gepleeg.

Sheriff Bill Brown van Santa Barbara het gesê dit is “baie duidelik” dat die skieter “baie erg geestelik versteurd” is. “Dit is duidelik die werk van ‘n mal mens,” het hy gesê.

Die polisie het beslag gelê op drie semi-outomatiese vuurwapens. Al die wapens is wettig aangeskaf en Rodger was die geregistreerde eienaar.

Rodger het sy planne in ‘n dokument van 141 bladsye uiteengesit.
Bron: SAPA, Huffington Post, BBC
http://youtu.be/P8ZEjruo5eI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Dit laat jou hare regop staan. Hoeveel siek mense loop tussen ons rond. Magtig, dis crazy!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.