Video: Minstens 40 sterf in Indië-treinramp

Die ongelukstoneel Foto: @GujaratHeadline, Twitter

Die ongelukstoneel Foto: @GujaratHeadline, Twitter

Die video volg onderaan die berig. Minstens 40 mense is Maandag dood nadat ʼn sneltrein in die noorde van Indië ʼn stilstaande goederetrein getref het.

Die Gorakhpur Express-passasierstrein het teen ʼn hoë snelheid beweeg en sy remme aangeslaan om te stop, maar steeds die goederetrein op die spoor getref.

“Ses van die passasierstrein se waens het ontspoor,” het Amrendra Sainger, woordvoerder van die polisie, gesê. “Minstens 40 mense is dood en 100 ander beseer.”

Owerhede is op soek na die stasiemeester wat net ná die ongeluk verdwyn het.

Reddingsbeamptes moes mense, wat onder die omgeslane waens vasgekeer is, uithaal. Die sneltrein se drywer en assistentdrywer is in ʼn kritieke toestand.

Die ongeluk het in Sant Kabir Naga, sowat 220 km suidoos van Lucknow, plaasgevind. Ander treine moes herlei word om die ongelukstoneel te vermy.

Narendra Modi, wat Maandag as Indië se nuwe eerste minister ingesweer word, het sy medelye op Twitter uitgespreek. “Ons bid vir die beseerdes,” het hy gesê.

Meer as 20 miljoen mense maak daagliks van ongeveer 11 000 passasierstreine in Indië gebruik. Meeste ongelukke word glo veroorsaak deur swak instandhouding en menslike foute.

Altesaam 13 mense van ʼn trougevolg is vroeër vandeesmaand oorlede toe ʼn trein ʼn Jeep-voertuig op ʼn onbemande spoorwegkruising getref het. ʼn Passasierstrein het vier dae tevore net suid van Mumbai ontspoor en minstens 19 mense se lewens geëis. -SAPA

Klik hier indien jy die video nie hieronder kan sien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.