Video: Moeilikheid in Swaziland oor ‘monargie’

Die betogings in eSwatini (Swaziland) het Vrydag ’n gewelddadige nadraai gehad. (Foto: @SwaziNews / Twitter)

Chaos het verlede week in eSwatini (Swaziland) uitgebreek ná honderde jong betogers glo teen die bestaande monargie in dié land in opstand gekom het.

Koning Mswati III het na bewering landuit gevlug te midde van grootskaalse geweld wat sedert Vrydag voortduur. Daar word bespiegel dat hy tans in Johannesburg wegkruip.

Internasionale media berig dat betogers op ’n veelparty-demokrasie en ʼn verkose eerste minister aandring. All Africa berig dat betogings in minstens 10 afsonderlike gebiede voortgegaan het ondanks ’n bevel deur koning Mswati III. Die koning het glo ook beveel dat geen petisies afgelewer mag word nie, wat olie op die vuur was.

Ander politieke partye word sedert 1973 in die land verbied.

Die betogings het Vrydag ’n gewelddadige nadraai gehad met polisie wat onder meer met traangas, rubberkoeëls en skokgranate op betogers losgebrand het terwyl betogers polisie met klippe bestook het.

Betogers het ook gedurende die konflik met polisie verskeie winkels geplunder en een in die informele nedersetting Msunduza naby die hoofstad Mbabane aan die brand gesteek.

Koning Mswati III van eSwatini tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika in 2017. (Foto: Yandisa Monakali/GCIS)

“Ons het vandag [Vrydag] die woede van die Swazi-jeug teen die outokratiese stelsel aanskou,” sê Wandile Dludlu, sekretaris-generaal van die Swaziland United Democratic Front, ’n pro-demokratiese alliansie.

Die Swaziland Solidarity Network (SSN) het Dinsdag in ’n verklaring gesê dat die situasie op grondvlak steeds plofbaar is.

“Hoewel ons gedurende hierdie moeilike tyd by die mense van Swaziland staan, moedig ons die internasionale gemeenskap aan om ’n proaktiewe rol te speel om druk op die koning en regering te plaas om na burgers se klagtes te luister en mediasie na te streef.

“Die koning en sy amptenare is direk verantwoordelik vir die situasie en moet vir die gemors waarin die land hom bevind, aanspreeklik gehou word.”

Hoewel betogings in Swaziland skaars is, het nasionale stakings deur burgers wat die koning onder meer van hebsug beskuldig en dat hy belastingbetalers se geld vermors, die land in 2019 geruk.

Maroela Media het ook voorheen berig dat die koning ondanks die land se finansiële verknorsing skaamteloos met peperduur inkopies voortgegaan het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Dries ·

Hoog tyd. Hierdie konings met talle bywyfe spandeer geld op luukshede, terwyl die onderdane krepeer.

Alleen Wolf ·

Jy verstaan duidelik nie waarvan jy praat nie, die monargie in Swaziland is vir jare lank die rede vir stabiliteit in die land, ek doen dikwels sake in Swaziland en die ouer garde wat weet waaroor dit gaan steun nie hierdie oproer nie.
Jy moet die meelewing beleef wat daar plaasvind as die koning ‘n byeenkoms roep, daar daag letterlik duisende burgers op in tradisionele drag, nie honderde soos in hierdie betogings nie

Elinette ·

Jy dink so? Jy dink al die verkiesings in hierdie land is werklik vry en regverdig? Dink weer. Ek het al persoonlik gesien hoe stembokse met 1000’e nie-ANC stemme op ‘n ashoop beland en vernietig word.

Anoniem ·

En ek neem aan jy het jou burgerlikeplig gedoen en dit aangemeld??

Elinette ·

Ai, Afrika … Afrika … Afrika … Wanneer gaan julle leer dat konflik op konflik nie werk nie? Die mensdom is nou al eeue oud, maar julle haak steeds vas in die Middeleeue, waar – as jy van iemand verskil of nie hou van wat die persoon doen nie – jy oorgaan tot geweld en moor, afbrand en verniel. Ai, die volk tog!!!

Tiptol ·

Ek stem, maar hulle het dalk nie ‘n ander uitweg nie. Sedert 1973….

LANA is ELANè ·

En so het die taktiek van die EFF en soortgelyke denkers ook afgesmeer in die mooie, rustige landjie wat eens bekend was vir die vredeliewendheid van sy mense.
Hulle gaan kry waarvoor hulle gevra het en laaannnggg trane daarna huil, want dan is daar nie net een korrupte leier nie, maar ‘n hele spul waarmee rekenskap gehou moet word. En die man op straat sit steeds in armoede.

Suzette ·

Voels van eenderse vere – SA het ook van hulle.
Ons regering sal seker nou reelings tref om die onluste en “moeilikheid” te gaan beredder op die belastingbetaler se onkoste.

Ansie ·

Regte papbroek. Maak die mense die duiwel in, mors hulle geld, weier om na hulle griewe te luister en oplossings te vind en hardloop dan weg.

Johann ·

Is dit nie die een wat ‘n VLOOT Rolls Royses aangeskaf het PLUS n paar BMW’s om hom en sy harem rond te ry nie?

Genis ·

Lyk amper soos n SA video… orals maar dieslfde in Afrika…

Pietertjie ·

Ai, nou sit die koning in Johannesburg in ‘n grendel-staat. Of mag hy terug-reis vir sake-doeleindes?

Dup ·

Afrika…..waar die heersers in absolute weelde lewe en die bevolking sterf van die honger…..geen wonder hulle betoog nie!

Jenny ·

Ek het vriende wat in Zwaziland bly en wat hier gesê word stem nie ooreen wat hulle ons vertel nie. Ek sou baie graag in Swaziland wou bly as dit moontlik was met hierdie koning as leier. Dalk moet daar bietjie gedelf word wat hierdie koning vir sy mense doen.

Alleen Wolf ·

Kan nie meer met jou saamstem nie, dis ‘n wonderlike rustige land, en vergeleke met S.A. nie naastenby die persentasie werkloses en homger mense nie.

JohanR ·

Partykeer is dit die enige manier om van ‘n diktator ontslae te raak. Die vette het lekker geleef terwyl die mense kruipeer het. Sal seker nou op belastinbetalers se ontkoste ‘n paleis in SA kry?

blackbird ·

Wat die Afrika leiers nie in ag neem nie, is dat hulle eie mense gaan hulle ondergang bewerkstellig. Jy kan nie roof onder die naam van reverdigheid/onteiening sonder vergoeding en net die elite voed nie. Dit moes lankal gebeur het, watter noemenswaardige bydrae het Swaziland enigsins tot Suid Afrika bygedra behalwe om ons belasting gelde op te vreet met sy luuksheid!

Chris dupreez ·

Wonder of die eff iets hiermee te doen het. Hulle floreer mos met opstokery

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.