Video: Nog mense sterf in Venezuela se onrus

‘n Betoger in die stad Valencia

‘n Betoger in die stad Valencia

‘n Video volg onderaan die berig. Die dodetal in die landswye betogings die afgelope maand teen die bewind van pres. Nicolás Maduro van Venezuela het tot 25 gestyg, en dreig nou om ‘n probleem vir die hle kontinent te word.

Venezuela is ‘n belangrike olieproduserende land.

Maduro is die opvolger en geesteskind van wyle pres. Hugo Chavez wat tot sy afsterwe ‘n sterk linkse binne- en buitelandse beleid gevolg het.

Die Unie van Suid-Amerikaanse leiers het Woensdag bymekaar gekom om oor die kwessie te besin. Hoewel die unie deur Chavez gestig is, het Venezuela diplomatieke betrekkinge met Panama verbreek wat die beraad voorgestel het.

Maduro hou vol dat die protes ‘n suiwer Venezuelaanse kwessie is, en tree op teen almal wat selfs baie bedees kommer uitspreek daaroor. Tog verwyt Maduro die protesteerders dat hulle as werktuie van buitelandse agente, veral die VSA, optree om die land te destabiliseer.

Die naburige Colombia is ook bekommerd omdat Venezuela die bemiddelaar is wat die Columbiaanse regering en die linkse FARC-rebelle na vyftig jaar om die ronde tafel gekry het.

Kenners van Venezuela meen eksterne bemiddeling is nodig, maar nie deur ander state nie. Hulle meen die pous, weens die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk in Latyns-Amerika en die pous se Suid-Amerikaanse afkoms, is die mees geskikte opsie.

Die betogings word onder meer toegeskryf aan die hoë inflasiekoers van meer as 50 persent, die lang toue by plekke wat kos verkoop en die land se hoë moordsyfer. Die ekonomiese probleme, ten spyte van die land se olierykdomme, word toegeskryf aan Chavez en sy opvolger se sosialistiese beleidsrigtings, asook die grootskaalse hulp aan kommunistiese state soos Kuba en ander sosialistiese state om hul ekonomieë kop bo water te laat hou.

Bronne: Christian Science Monitor, Trouw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.