Video: Olifantkoei vertrap krokodil om kalf te beskerm

Die olifant het die krokodil by die watergat getakel. (Foto: Skermskoot/Latest Sightings)

ʼn Krokodil het sleg daarvan afgekom nadat ʼn olifantkoei met hom afgereken het. Die niksvermoedende krokodil is vertrap nadat dié glo die olifant se kleinding probeer bekruip het.

Beeldmateriaal van die voorval is op die aanlyn platform Latest Sightings gedeel waar mense video’s van hul ontmoetings met wilde diere deel.

In die video kan gesien word hoe ʼn olifant ʼn krokodil by ʼn watergat nader. Sy stamp eers die krokodil met haar slurp en kop voordat sy aggressief raak en op die dier begin trap.

Die olifant, wat nie slagtande het nie, gebruik naderhand haar volle gewig van meer as 3 ton om die krokodil te vertrap.

Voordat die krokodil eindelik van die vertrappery vrek, probeer die olifantkoei selfs om die dier aan die stert rond te swaai.

Die voorval, wat deur Hans Henrik Haahr tydens ʼn safari in Zambië op video vasgelê is, het glo gebeur etlike minute nadat die krokodil ʼn kalf wou aanval.

Volgens Latest Sightings het die voorval Haahr stom gelaat en kon hy dit nie anders as “skokkend” beskryf nie.

Dit is nie duidelik wanneer presies die aanval plaasgevind het nie.

Volgens Latest Sightings se webwerf is krokodille normaalweg opportunistiese jagters wat jong olifante geredelik teiken, terwyl olifante dikwels as vreedsame diere beskou word. Dié ma het egter nie op haar laat wag nie en het onmiddellik ingespring om haar kalf te beskerm.

Die video is al byna 50 000 keer op sosiale media gedeel en meer as 17 miljoen keer gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tipper ·

Die ma beskerm haar baba,hier by ons gooi moeders weer hulle baba’s weg,lees bietjie waar is hulle al opgetel.

Elinette ·

Foeitog, die arme krokodil! Hoekom het hy nie maar gelos en weggeswem nie?

Oljetter ·

n Olifant sonder slagtande. Dit moet n nuwe spesie wees?

fs ·

Moenie met enige goeie ma mors nie! Jy sal slegste daarvan afkom hahahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.