Video: Oorlog dreig in Oekraïne

Soldate in Oekraïne Foto: Darko Vojinovic, NY Daily News

Soldate in Oekraïne Foto: Darko Vojinovic, NY Daily News

‘n Video volg onderaan die berig. Die hoof van NAVO het gewaarsku dat Europa se vrede en veiligheid in gedrang kan wees deur dreigemente van Rusland oor ʼn militêre inval in Oekraïne.

“Rusland moet sy militêre bedrywighede staak,” het Anders Fogh Rasmussen, die hoof van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) gesê. “Dit bedreig die vrede en veiligheid in Europa.”

Rasmussen sê hy het die Noord Atlantiese Raad byeengeroep weens die Russiese president Wladimir Poetin se dreigemente.

Engeland en Frankryk het intussen aangekondig dat hulle voorbereidings vir ʼn beraad in Sochi in Junie vir die Groep van Agt ontwikkelde nasies (G8) opgeskort het. Hulle sluit by Kanada en Amerika aan om sanksies toe te pas teen Poetin se houding jeens Oekraïne.

John Kerry van Amerika het gewaarsku dat Poetin sy G8-setel kan verloor en ook dat bates van Russiese besighede gevries kan word. “Dit is ʼn reuseprys om te betaal,” het Kerry aan NBC gesê. “Indien Rusland ʼn G8-land wil wees, dan moet dit optree soos ʼn G8-land,” het hy op CBS gesê.

Barack Obama, president van Amerika, het Saterdag 90 minute lank op die telefoon spandeer om Poetin te oorreed om terug te trek.

Sondag se gesprekke agter geslote deure volg weens toenemende spanning in Crimea wat dreig om die deur oop te maak vir die Weste se ergste krisis met Moskou sedert die Koue Oorlog.

Honderde gewapende soldate het Sondag die ingang na ʼn eenheid van Oekraïne se grenswagte in Crimea versper.

Die nuwe premier, Arsenij Jatsenioek, het Sondag ʼn volle mobilisasie van die weermag aangekondig nadat Moskou Saterdag amptelik die ontplooiing van sy troepe na Oekraïne goedgekeur het. Verskeie stede in Crimea word geteister deur betogings teen die nuwe pro-Westerse regering in Kiëf nadat Victor Janoekovitsj op 22 Februarie ontsetel is.

Oekraïne sê Rusland het reeds 30 gepantserde voertuie en 6 000 addisionele troepe in die Crimea ontplooi.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het intussen gesê die Suid-Afrikaanse regering spreek sy kommer uit oor die politieke situasie in Oekraïne. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ziegfried ·

Rusland dreig nie om die Oekraine binne te val nie. Rusland het goekeuring van sy parlement verkry en beplan om Crimea by te staan om hulle te beskerm teen die potensiele aanslag, soortgelyk aan dit wat in Kiev gebeur het. Crimea is ‘n outonome soewereine Republiek met sy eie regering. Die ondersteuning word beplan met die totale goekeuring van die regering en inwoners van Crimea. Dit wat in Kiev gebeur het is die ongrondwetlike ontseteling van ‘n demokraties verkose regering deur ‘n klein groepie “terroriste” gesteun deur die VSA en sy NATO vriende. Presies dieselfde soos wat hulle gedoen het in Libië, Egipte en Sirië. Die rebellie in Kiev is georkestreer en gefinansier deur die VSA en sy trawante. Rusland is nie die agressor nie – kyk liewers wes om te sien wie die ware opstokers en agressors is. Die VSA en NATO is besig om met vuur te speel.

Danielle ·

My hoop is dat die VSA en trawante spoedig tot ‘n val sal kom.

Chris ·

Ek kon nie minder saamstem met jou nie.

Hoewel die Krim outonoom is, is dit steeds deel van Oekraïne. Die Russiese parlement het darem nie die reg om sy troepe in die gebied te ontplooi nie. Dit is niks anders as ‘n besetting nie. Die situasie sou dieselfde gewees het as die regering van Swaziland besluit sou het om die Suid-Afrikaanse Swazi-tuisland KaNgwane binne te val.

Dat julle in Suid-Afrika dink dat ‘n regering, of dit nou HF Sharpeville Verwoerd is of JG Marikana Zuma, sommer sy eie burgers mag skiet, is geen demokrasie nie. Burgers het ALTYD die reg om hul demokratiese regering uit te gooi. In die Verenigde State is darem selfs die wapenwette so swak, sodat burgers hulself kan verdedig teen die regering as dit moet. En ook Afrikaners en Nederlanders het ‘n geskiedenis waar ons vreemde regerings uitgegooi het. Ons het die Spanjaarde uitgegooi tydens die Tagtigjarige Oorlog en later het julle nog die Engelse uitgegooi tydens die Eerste Vryheidsoorlog.

Dat die Oekraïners nou die Russe uitgegooi het, is juis baie logies. Ons wil tog nie deur ‘n vreemde volk oorheers word nie?!

Ziegfried ·

Die VSA en sy ondersteuners wil graag hê ons moet glo dat Rusland die Oekraine inval. Die mense en leiers van Crimea het Rusland versoek om hulle by te staan teen die potensiële onwettige oorname van hule outonome gebied deur ‘n onwettige regering wat tans in beheer is van Oekraine.
As die koning van Swaziland vir SA vra om om hulle te help beskerm teen ‘n rebellegroep wat hom wil ontsetel, dan kan ons nie sê dat SA vir Swaziland binnegeval het nie.
Die hele oorname van die regering in Kiev is onkonstitusioneel en die huidige regering in Kiev is onwettig. Net omdat die VSA en NATO die nuwe regering aanvaar, maak dit nie noodwendig wettig nie.

Burgers kan hul regering demokraties uitgooi deur ‘n verkiesing – nie op die manier wat die VSA en sy trawante dit wil doen nie. As al die demokratiese sisteme in plek is, dan het geen burger die reg om ‘n wapen op te neem teen sy regering nie.

Tom ·

Ek wonder soms hoe die russe of oekraniers of boere in amerika sal optree as hulle boere ook so wreed soos hier vermoor en aangeval word?

Is there somebody out there?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.