[Video] Orkaan Irma: Miljoene ontruim Florida, dodetal styg drasties

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Gerben Van Es/Dutch Defense Ministry via AP)

Die dodetal het teen Saterdagoggend reeds op 23 gestaan nadat orkaan Irma Vrydagaand begin verwoesting saai het in die Bahamas en Kuba.

Die Britse nuuswebwerf The Guardian, wat die orkaan se vordering regstreeks volg, sê dit is die eerste kategorie-vyf storm wat dié gebied tref in meer as 100 jaar.

Miljoene inwoners van Florida het teen Vrydagmiddag uit dié Amerikaanse deelstaat gevlug uit vrees vir hul veiligheid.

Rick Scott, Florida se goewerneur, het Vrydagaand vir die hoeveelste keer ʼn dringende waarskuwing gerig aan inwoners wat in die deelstaat wou aanbly wanneer die orkaan die vasteland tref. Meer as 5,6 miljoen mense, meer ʼn kwart van die staat se bevolking, is aangesê om Florida te verlaat. Scott het gewaarsku dat diegene wat nié ag slaan op waarskuwings nie, nie verseker kan wees dat reddingspanne hulle kan red wanneer die storm hulle wel tref nie. Hy het ook gesê diegene wat teen Vrydagaand nog nié hul huise ontruim het nie, sal moontlik nie meer kan vlug nie.

Meer as 540 000 mense in Georgia is ook aangesê om dadelik die gebied te verlaat.

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Jonathan Falwell via AP)

Hoewel die tyd van impak van Vrydag na Saterdag vervroeg is, het die Amerikaanse orkaansentrum in ʼn verklaring gesê inwoners moet so vinnig as moontlik die gebied verlaat omdat dit in dié stadium nié meer duidelik is of die orkaan teen Saterdagaand of Sondagoggend die vasteland in Florida sal bereik nie. Stormsterk winde van sowat 300 km/h gaan glo vir langer as 30 uur in dié deelstaat woed.

Die storm het reeds verwoesting gesaai op die Turks en Caicos-eilande in die Karibiese See. Puerto Rico én ander klein eilande soos Barbuda en St. Barts, albei met duisende inwoners, is reeds “heeltemal verwoes”.

Pres. Donald Trump het Vrydag op sosiale media gesê orkaan Irma is ʼn storm van “epiese proporsies” en “waarskynlik die vernietigendste” wat die VSA tot nóg getref het. Hy het ook gewaarsku dat lede van die publiek moet ag slaan op die waarskuwings van wetstoepassers en regeringsamptenare.

Orkaan Irma is die eerste kategorie-vyf storm wat die VSA tref sedert 1993. Orkaan Harvey, wat volgens kenners minder verwoesting gesaai het as wat orkaan Irma gaan aanrig, het sowat $70 miljard (net meer as R900 miljard) se skade in Houston in Texas gesaai.

Lees meer oor orkaan Irma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Natuurlike verskynsels sal altyd daar wees. Dis die mens se teenwoordigheid wat dit katastrofies laat voorkom.

Venus ·

5.6 Miljoen mense wat moes vlug! Dit sou al die blankes in S.A gewees het……!

Peter ·

Verskil is net, ons 5.6 mil vlug vir ‘n ander tipe orkaan ☺

Lena Jonk ·

Ons almal elke siel op aarde kan net bid vir daardie mense hulle is in baie groot nood, niemand is te goed dat soiets enige land kan tref nie. Die Genade van Bo is nog daar. Laat ons, ons lewes regkry, lees in die Bybel wat word daar gese van die eindtye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.