Video: Outistiese kleuter ná drie dae gevind

Anthony “AJ” Elfalak is Maandagoggend gevind (Foto: DeborahClay, Twitter)

“Dit is ’n wonderwerk dat hy lewe.”

Só sê die pa van die driejarige AJ Elfalak wat Maandagoggend ongedeerd by ’n rivier digby Sydney in Australië gevind is. AJ is Vrydagoggend die laaste keer by die familie se huis in ’n landelike gebied in die noorde van Sydney gesien. Hy is outisties en kan ook nie praat nie.

Sy ouers, Anthony en Kelly, was rasend van bekommernis en het sedert sy verdwyning onvermoeid na hom gesoek. Die plaaslike polisie en reddingwerkers het ook heel naweek gehelp om na die kleuter te soek.

Die polisie het ure ná AJ se verdwyning ’n helikopter digby die familie se huis in die lug opgestuur, maar dié kon nie vir AJ opspoor nie. Volgens die polisie het die digbeboste terrein die soektog na die seun moeilik gemaak.

AJ is Maandagoggend eindelik by ’n rivieroewer – ongeveer 500 meter van die familie se huis – opgemerk.

’n Video wat uit die helikopter geneem en op sosiale media versprei is, wys hoe die seun in ’n poel modderige water by die oewer sit. In die video lyk dit asof hy water met sy hande skep en drink.

AJ het net ’n paar skrape en kneusplekke opgedoen. Hy is na ’n hospitaal geneem waar dokters hom ondersoek het. Hy is dieselfde dag nog ontslaan.

“Hy is nou by ons. Hy is veilig en gesond. Dit is al wat saak maak,” het Kelly gesê.

Nadat AJ met sy familie herenig is, het hy verbete aan sy ma vasgeklou en wou hy haar nie los nie. Hy was honger, maar was gelukkig om terug te wees by sy ouers, berig USA Today.

Volgens Sky News beskryf Anthony AJ se oorlewing as ’n wonderwerk.

“Die miere het hom gebyt, hy het skaafmerke van sy doek, maar hy lewe. Dis wonderlik,” het Anthony gesê.

Anthony vertel hy was drie dae lank in die bosse om na AJ te soek. “Ek het niks geslaap nie. My been, heupe en enkels is seer van die loop. Maar ek het geweet ek moet nie ophou soek nie.”

Volgens Anthony is dit die heel eerste keer dat sy seun só van die huis af wegdwaal.

Die soektog na AJ het groot opspraak gemaak en talle voorblaaie van verskeie koerante in Australië gehaal.

“Dit is ’n verligting dat AJ gevind is. Ek kan my nie voorstel hoe traumaties hierdie ervaring vir hom en sy ouers moes wees nie,” het premier Scott Morrison op Twitter geskryf.

Die polisie wat met die soektog gehelp het, sê die feit dat AJ toegang tot water gehad het, het hom help oorleef.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vonnie ·

my kind is ook outisties. ek kan net indink waardeur daardie ouers gegaan het. my kind praat darem. baie dankbaar die outjie is gevind.

Hennie ·

Ek het ‘n boetie wat outisties is, ons vier volgende jaar sy 50 ste! As kind het hy ook sommer net so weggeraak, dan soek ons hom vir ure lank. As ons hom kry, dan het hy by mense aan huis gegaan en geniet hy hulle tydskrifte, heel rustig! Hy was versot op Huisgenoot Maar ons het hom darm elke keer gekry binne ure…

Moedeloos ·

Miskien moet ouers daaraan dink om n bandjie wat sy bewegings kan monitor aan hom sit. Amper soos voertuie met trackers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.