Video: Perd weke later uit puin in Turkye gered

(Foto: Skermskoot)

Reddingswerkers het verstom gestaan oor ’n perd wat oorleef het nadat dit drie weke lank onder die puin in Adiyaman, in die suidooste van Turkye, vasgekeer was.

Volgens berigte is die perd aan die begin van Februarie onder die puin vasgekeer, toe ’n aardbewing van 7,8 die land getref het.

Die feit dat die perd 21 dae lank sonder kos of water oorleef het, word as ’n wonderwerk beskou.

Daily Express berig die reddingswerkers het die perd Maandag gered toe hulle besig was om van die puin in die stad te verwyder.

Die reddingspan het die perd gesien en dadelik daarvan werk gemaak om die dier van onder die puin te bevry.

In ’n video wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe ’n reddingswerker die bruin perd met ’n tou van onder die puin uittrek.

Nóg ’n aardbewing van 5,6 het Suid-Turkye Maandag getref, meer as drie weke nadat die eerste aardbewing op 6 Februarie Turkye en Sirië getref het. Altesaam 50 325 mense is in die aanvanklike aardbewing dood, waarvan 5 951 sterftes in Sirië en 44 374 in Turkye aangemeld is.

Meer as 185 000 geboue is ook tydens die aardbewing beskadig.

Nog vier aardbewings en sowat 45 naskokke het daarna gevolg.

Meer as twee dosyn geboue wat reeds tydens die vorige aardbewings beskadig is, het Maandag heeltemal ineengestort en minstens een persoon is dood en meer as 100 mense beseer.

Die laaste aardbewing was in die dorp Yesilyurt in die Malatya-provinsie gesentreer, het Yunus Sezer, die hoof van Turkye se rampbestuuragentskap, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Suzette ·

Sjoe kry sommer trane in my oë – dit is voorwaar ‘n wonderwerk.

Elene ·

Wonderwerk. Dink net hoe moeg moes hy gewees het en sonder enige energie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.