Video: Philae was sukses ondanks teenspoed

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Al nege eksperimente aan boord van die landingstuig, Philae, het gewerk en die data is via die moederskip Rosetta na die aarde teruggestuur, aldus die Europese Ruimteagentskap. Die bevindinge sal in voorleggings tydens ’n konferensie van die Amerikaanse Geophysical Union van 15 tot 19 Desember in San Francisco bekend gemaak word.

Onder die eksperimente was die boor van ‘n gat in die komeet 67P/Churyumov–Gerasimenko en die ontleding van die materiaal wat onttrek is.

Philae se batterye het egter kort na die stormagtige landing pap geword, en omdat dit langs ‘n krans tot ruste gekom het wat die sonlig afskerm, is dit onseker of die tuig ooit weer van hom sal laat hoor. Die wetenskaplikes hoop dat die sonpanele wel weer bietjie son sal kry wanneer die komeet nader aan die son beweeg.

Philae se landing het stormagtig verloop toe dit geblyk het dat die spuit op sy “kop” nie werk nie, wat die tuig teen die komeet se oppervlak moes vasdruk. Die komeet se aantrekkingskrag is 10 000 keer swakker as dié van die aarde, en Philae, met ’n massa van 100 Kg, sou maar omtrent soveel soos ‘n vuurhoutjieboksie op die komeet weeg.

Die twee harpoene wat in die komeet moes vasskiet om Philae te anker, het ook nie gewerk nie. Die gevolg was dat Philae met sy aanvanklike landing weer terug in die ruimte in gebons het tot op ‘n hoogte van sowat ’n kilometer voor dit weer saggies geland, en weer ’n entjie teruggebons het. Die Europese Ruimte-agentskap is nog nie heeltemal seker waar die tuig tot ruste gekom het nie.

Philae kon hom wel met een van die skroewe in sy drie pote aan die komeet heg.

Hoe nader die komeet aan die son kom, hoe meer aktiwiteit sal op die komeet plaasvind, met gas en stof wat “uitblaas.” Die smelt van die ys kan veroorsaak dat Philae weer losraak, en deur ’n gasaflaat weer weg van die komeet gewaai word.

Die komeet sal op sy naaste punt aan die son ’n bietjie verder as die aarde se wentelbaan om die son wees. Rosetta, wat sowat 10 miljoen kilometer afgelê het om ’n halfmiljoen kilometer van die aarde af by die komeet aan te sluit, sal saam met die komeet om die son beweeg, en daarna self op die komeet probeer land.

Komete wat die son die eerste keer besoek kom gewoonlik uit die Oort-gordel, ver buitekant die baan van Pluto.  67P/Churyumov–Gerasimenko kom na berig word egter uit die Kuiper-gordel wat net anderkant Neptunis geleë is. Pluto word soms ook ’n Kuiper-gordel-voorwerp genoem.

Bron: Christian Science  Monitor

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ruimte, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Elizabeth ·

Dankie tog vir interessante nuus soos hierdie – baie beter en leersamer om te lees as die gewone moord-en doodslag stories!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.