Video: Polisie bevestig sterftes in Toronto-skietvoorval

Polisiebeamptes op die toneel van die skietery in Toronto, Kanada (22 Julie 2018). Foto: Nathan Denette/The Canadian Press via AP

Die polisie in Toronto, Kanada, het bevestig ʼn vrou is dood en ʼn negejarige dogtertjie is in ʼn kritieke toestand nadat ʼn skieter Sondagaand op mense buite ʼn restaurant in Greektown losgebrand het.

Volgens die polisie het die man 14 mense geskiet, insluitend die jong meisie. Mark Saunders, polisiehoof, het gesê die skieter is tydens ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet.

Mark Pugash, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die toestand van die ander mense wat in die aanval gewond is, is nog nie bekend nie. Saunders het bygevoeg die skietery was nie lukraak nie en terreur as motief kan nie uitgeskakel word nie.

Maroela Media het vroeër berig oor die skietery wat omstreeks 22:00 plaaslike tyd tussen Danforth- en Loganlaan plaasgevind het in ʼn besige residensiële gebied waar baie restaurante en kafees geleë is.

ʼn Video wat deur ʼn ooggetuie gemaak is wys hoe ʼn man in swart geklee drie skote vanaf die sypaadjie in een winkel in vuur. Ooggetuies het gesê hulle het tussen 20 en 30 skote gehoor.

Een van die inwoners het ʼn ander video op Twitter gedeel wat skynbaar uit ʼn woonstel geneem is en waarin gehoor kan word hoe skote deur die lug klap met sirenes in die agtergrond.

Die polisie het ooggetuies wat video’s of foto’s van die voorval geneem het gevra om na vore te kom.

Die identiteit van die skieter is nog nie amptelik bekendgemaak nie. Op ʼn vraag of Saunders enige inligting oor die skieter kan deel, het hy gesê: “In dié stadium nie weet ons niks nie. Ek hou alle moontlikhede oop. Ek kyk na elke moontlike motief. Ek wil beslis ook nie bespiegel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.