Video: Pous ‘jammer’ oor klap op hand

Pous Franciskus lewer sy preek op Nuwejaarsdag. (Foto: Gregorio Borgia/AP)

Pous Franciskus het sy nuwe jaar met ʼn verskoning begin.

ʼn Vrou het haar die gramskap van die hoof van die Katolieke Kerk op die hals gehaal toe sy sy hand gegryp het terwyl hy Oujaarsaand sy weg deur ʼn glimlaggende skare gemaak het.

Die vrou het die pous se hand gegryp en hom nader gepluk. Die verbaasde pous het die vrou se hand verskeie kere geklap voordat hy kon loskom – optrede waarvoor hy ʼn dag later om verskoning gevra het.

ʼn Video van die voorval – wat wêreldwyd opslae gemaak het – wys ook ʼn geïrriteerde pous terwyl hy wegstap.

In sy toespraak aan pelgrims Woensdag het Franciskus van sy geskrewe toespraak afgewyk om op die belangrikheid van geduld te fokus.

“Soveel kere verloor ons geduld, ek ook en ek vra om verskoning vir gister se swak voorbeeld,” het Franciskus gesê.

Die vrou is nie dadelik geïdentifiseer nie. Sy, soos die duisende ander mense in die skare, is deur ʼn wit versperring van die pous weggehou. Hy het saam met ʼn string lyfwagte verby die skare gestap.

Die vrou het die teken van die kruis gemaak terwyl Franciskus nader gekom het en iets geprewel voordat sy die pous gegryp het.

Die pous is gewoond aan groot skares; nie net in die Vatikaanstad nie, maar ook op sy wêreldwye reise. Dit is ongewoon vir hom om irritasie met die optrede van mense te wys, maar sekere dinge het hom beslis al verkeerd opgevryf.

Tydens ʼn besoek aan Mexiko in 2016 het iemand in die skare die pous se arms gegryp. Die pous het bo-op iemand in ʼn rolstoel te lande gekom. Franciskus het ná die voorval woedend beduie en volgens Catholic News Service gesê: “Wat is fout? Moenie so selfsugtig wees nie.”

In Maart verlede het ʼn video gewys hoe Franciskus herhaaldelik sy hand terugtrek van aanhangers wat sy ring probeer soen. Katolieke media-instellings het die pous gekritiseer omdat hy (die pous) so afkerig is van ʼn tradisionele teken van respek. ʼn Woordvoerder van die Vatikaan het egter later gesê Franciskus is bekommerd oor higiëne.

“Hy wil die risiko van besmetting vir mense beperk, nie vir homself nie,” het die woordvoerder gesê.

Verskillende pouse het oor die jare al te staan gekom voor verskeie onvoorspelbare uitdagings – in sommige gevalle veel gevaarliker as Dinsdag se voorval. In 2009 het ʼn vrou oor ʼn versperring gespring en pous Benedictus platgeduik. Die vrou is later geïdentifiseer as iemand met ʼn geskiedenis van geestesgesondheidsprobleme. Sy het dieselfde aanval ʼn jaar tevore ook probeer, maar is toe deur veiligheidswagte gestuit.

Franciskus het ʼn besige Kerstyd agter die rug en was die gasheer by verskeie geleenthede in die Vatikaan. Voordat hy vir die klap om verskoning gevra het, het hy ʼn preek gelewer oor vroue en “elke vorm van geweld, waaronder verkragting, gedwonge prostitusie en verbale misbruik”, veroordeel.

“Ons verstaan ons vlak van menslikheid deur hoe ons ʼn vrou se liggaam behandel,” het die pous gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.