[Video] Pretrit gesluit ná meisie (14) uit stoel tuimel

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Pretpark in die staat New York in die VSA het die afgelope naweek een van sy gewilde ritte gesluit ná ʼn 14-jarige meisie sowat agt meter ver vanuit die gondelstoel tydens die pretrit tot op die grond getuimel het.

Die voorval, wat op die Sky Ride-rit by die Six Flags-pretpark in Queensbury gebeur het, word tans deur owerhede ondersoek.

Volgens CBS het die 14-jarige meisie saam met ʼn jonger kind, een van haar familielede, op die pretrit gegaan. Die operateur het egter die rit gestop ná ʼn boodskap dat iemand op die Sky Ride in nood is.

Talle personeellede van die pretpark en omstanders het hulle gehaas na dié rit waar die 14-jarige aan die gondelstoel vasgeklou het terwyl sy in die lug hang. Die ander kind het nog vasgegespe gesit.

Dit is nog onduidelik hoe die meisie uit die stoel losgekom het.

Die rit waarop die 14-jarige was (Foto: Facebook/Six Flags)

Loren Lent, ʼn ooggetuie, het aan CBS vertel dat die mense onder die meisie saamgedrom het in ʼn poging om haar val te keer. Sy het eindelik geval en ʼn tak op pad na die grond getref, maar haar val is deur die skare gestuit.

“Dit was skrikwekkend. Jy kon sien hierdie persoon is hulpeloos. Ek het aan een van die personeellede gevra: ‘Wil julle nou vir my sê julle het geen noodmaatreëls om iemand te red in só ʼn situasie nie?’ Toe sê hy my aan om die toneel te verlaat,” het Lent vertel. ʼn Video wat Lent van die voorval geneem het, is intussen ook op sosiale media gedeel.

Die 14-jarige het geen ernstige beserings opgedoen nie, maar is wel na ʼn hospitaal vervoer. ʼn Onbekende 47-jarige man is ook in die hospitaal opgeneem nadat hy sy rug seergemaak het in ʼn poging om haar te vang.

Beamptes wat die pretrit-toestel ondersoek het, het gesê dit is in goeie werkende toestand.

Die saak word steeds ondersoek.

Kyk die video hier.

(For licensing or usage, contact licensing@viralhog.com)Girl falling from ride at 6 Flags Great Escape and they have NO means to rescue them. Thanks to the guys who banded together to catch her and the guy who climbed the tree to move the branches out of the way.

Posted by Loren Lent on Saturday, June 24, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nettie ·

Sy sou nie geval het as sy behoorlik vasgemaak was nie – dit lyk of sy lettelik uit die lyf-harnas gegly het.

Johan ·

Sy kon dit dalk self losgemaak het in ‘n poging om dalk beter te sien. Ondersoek na die voorval sal seker bevestig of die harnas nog gesluit was. Ek wil voorstel dat harnasse so ontwerp is dat daar geen manier is dat dit of deur iemand kan losgemaak word of dat geen persoon uit die harnas kan kom sonder ‘n operateur se hulp.

Nettie ·

Goeie idee, Johan. Of die harnasse moet só ontwerp word dat dit nie losgemaak kan word tydens die rit nie – eers as die masjien totaal tot stilstand gekom het – elke eenheid op die grond – sal die harnas of gordel outomaties of met die hand deur ‘n operateur ontsluit word.

CQ ·

Ek dink DIE dogtertjie het dalk haar harnas self losgemaak… mens gly nie somer net uit so n ding nie.
#netmyopinie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.