Video: Ruimtevaarders maak geskiedenis met SpaceX-lansering

Bob Behnken en Doug Hurley (Foto: SpaceX)

Nasa se ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley het geskiedenis gemaak toe hulle Saterdagaand aan boord SpaceX, Elon Musk se ruimtevaartonderneming, se ruimtekapsule Crew Dragon, gelanseer deur die nou bekende Falcon 9-vuurpyl, na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) vertrek het.

Dit is die eerste keer in nege jaar dat ʼn ruimtetuig met Amerikaners van Amerikaanse grondgebied gelanseer word. SpaceX het ook pas die eerste private maatskappy geword om mense na die ruimte te neem.

Behnken en Hurley is omstreeks 21:22 vanaf die Kennedy-ruimtesentrum aan boord die ruimtekapsule Crew Dragon deur die Falcon 9-vuurpyl gelanseer. Die rit na die ISS sal sowat 19 ure duur.

“Ons het dit gedoen,” het die Nasa-administrateur Jim Bridenstine kort ná die lansering gesê. Bridenstine het na die geskiedkundige oomblik saam met die Amerikaanse president Donald Trump en die visepresident Mike Pence gekyk.

Volgens Nasa het meer as 10 miljoen mense regstreeks na die lansering gekyk.

Bridenstine vertel dat hy gebid het die oomblik toe Crew Dragon gelanseer word. “Ek het al vantevore daardie gerommel gehoor, maar dit is ’n heel ander gevoel as jy jou eie span op daardie vuurpyl het,” het hy vertel.

“Hulle is ons span, hulle is Amerika se span, dit is die lansering van Amerika, dit is alles wat Amerika in sy suiwerste vorm te bied het.”

Maroela Media het vroeër berig die lansering is Woensdagaand etlike minute voor dié ruimtevlug sou vertrek, uitgestel weens die onstuimige weerstoestande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Karlahari ·

Elon Musk. Suid Afrikaans gebore.
Stigter en eienaar van SpaceX.
Terug op tuis bodem kan n kader in Suid Afrika gebore nie die SAL in die lug hou nie.
Want Afrika redeneer solank daar nog 10c in die bank is het ons nog geld vandag. Morê sal die regering ons help en oormorê as alles platval blameer ons apartheid.
Goed gedoen Elon Musk, NASA en hul spanne.

Boortor ·

Ons kort n paar van sy vuurpyle hier. Daar is n hele paar mense in die land wat op n eenrrigting vlug moet gaan. Mars toe!!

Co ·

En dit van ‘n knaap van Pretoria, Elon Musk se ma was die dogter van ‘n dokter wat in Soutpansbergweg gewoon het. Alhoewel hulle engels was, was sy en haar suster saam met ons in ‘n Hervormde Afrikaanse Sondag skool in Rose straat, Riviera. Haar pa (die dr.) was self ‘n persoon met ondenemings gees, Hy het geglo dat Atlantis – die verlore stad – in die Kalahari woestyn gelee was. Hy het dus gereeld met sy Piper Cup vliegtuigie gaan soek na die verlore stad. Daar het hy ook omgekom toe sy vliegtuigie neergestort het.

Kobus2 ·

Prioriteite oppie koffie, as jy mý vra. Daar is plekke op aarde waar die mens se voet nog nooit gesit is nie, die menslike oog nog nooit gesien het nie, maar tog foeter hulle die ruimte in opsoek na … wat? God se geheime is God se geheime en so sal dit bly totdat Hy dit eendag sélf aan ons bekend sal maak. Soek hulle intelligente wesens daar buite? Daar’s dan nie eers intelligente wesens hier op aarde nie!! Noem my maar oudmodies, maar hulle gaan absoluut NIKS daar buite leer wat hulle nie uit die Bybel kan kry nie … en dit vir veel goedkoper!

Die Swartkat ·

As ‘n afrikaner en Christen, laat sak ek my kop in skaamte vir jou kommentaar, Kobus2. Ons hemelse Vader het aan ons die vermoë gegee om die onbekende te gaan verken, om die prag van Sy skepping te kan waardeer en om te leer hoe om die bietjie wat ons het, beter te kan gebruik. As ons voorouers redeneer het soos jy, dan sou ons nou nog geleef het soos grotmense met geen vooruitgang nie. Die eksperimentering wat plaasvind op die Internationale Ruimte Stasie en die kennis wat daar bekom word kan moontlik eendag jou of ‘n geliefde se lewe red, so bedank eerder die onbaatsugtige mans en vroue wat hul lewens waag in die soeke na die antwoorde wat God vir ons gelaat het om te vind.

Jean ·

Die internet wat ons gebruik om hierdie berig te lees is te danke aan ‘n satelliet daar buite.

Jacobus ·

Asemrowend dat ‘n Suid Afrikaner sò ‘n bydra kan maak.
Baie, baie trots. Voorbeeld vir menige.

JohanR ·

Dink net wat Elon Musk en ‘n span sou kon uitrig, as jy SA net vir 24 maande vir hulle gee on reg te ruk! Maar nee ons het die ANC!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.