Video: SA-leerders geteiken as Liverpool-ondersteuners

(Foto: Skermskoot)

’n Suid-Afrikaanse skoolgroep moes onder hul sitplekke in ’n bus in Manchester, Engeland, wegkruip toe Manchester United-ondersteuners hulle vir Liverpool-aanhangers aangesien het.

The Guardian berig die United-ondersteuners het die bus naby Old Trafford, waar die Premierliga-wedstryd plaasgevind het, met bottels en blikkies bestook.

Die voorval het sowat 8 km van die stadion, buite die Tollgate-kroeg, plaasgevind. United-ondersteuners het daar in groot getalle bymekaargekom vir ʼn protesoptog teen die Manchester United-klub se eienaars, die Glazer-familie.

United-ondersteuners blameer glo die Glazers vir die span se swak vertoning wat aan die begin van die sokkerseisoen gelewer is.

Beeldmateriaal van die voorval is op sosiale media gedeel.

Adam Bradshaw, die busbestuurder en die eienaar die Manchester-gebaseerde Beeline VIP Coaches, het gesê die skoolgroep van Suid-Afrika was in Verenigde Koninkryk op ʼn sokkertoer. Hulle het daarheen gereis om soveel moontlik sokkerklubs te besoek en ʼn paar wedstryde te speel. Dit is nie bekend van watter skool hulle is nie.

“Deel van die skoolgroep se program was om die wedstryd tussen Liverpool en Manchester United by te woon, want die leerders is almal groot United-aanhangers. Hulle het almal die serpe en hemde van die Manchester United-span aangehad en was opgewonde oor die wedstryd,” vertel Bradshaw aan The Guardian.

Bradshaw sê by die Tollgate-kroeg het die klomp protesteerders hulle sonder enige rede met bottels en blikkies begin gooi.

“Die leerders het uit vrees onder die sitplekke weggekruip.”

Volgens Bradshaw is sy busmaatskappy ʼn Manchester-gebaseerde firma, met “Manchester” wat groot agterop die bus geskryf staan. “Dit is moeilik om te glo dat die betogers gedink het ons is Liverpool-aanhangers.”

Niemand is in die voorval beseer nie en die bus het geen ernstige skade opgedoen nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

George ·

Moes net een van daai talle United serpe by die venster uithang. Julle kom uit SA en vrees n bietjie bier? Nee wat bois :) Geniet hom!

Waarnemer ·

Dit is omdat julle sokker gaan kyk het in stede van rugby….die sokker ondersteuners maak maar so….Rugby ondersteuners mors nie bier so nie.

Pietertjie ·

Dit gaan nog goed met onse mense as hulle hulle kinders op oorsese sportkyk-toere kan stuur. Wonder wie het betaal daarvoor?

B-Man ·

Wonder ek ook. Hulle het seker nie in hul wildste drome gedink dat Europeërs/Kolonialiste so kan optree nie. Skoen was bietjie aan die ander voet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.