Video: Skattige panda-tweeling vir Franse dieretuin

Huan Huan het Maandag omstreeks 01:00 geboorte aan ‘n tweeling gegee (Foto: Guillaume Souvant, AFP)

Groot opgewondenheid heers nadat ʼn pandabeer in die Beauval-dieretuin in Saint-Aignan, Frankryk, Maandag geboorte aan ʼn tweeling gegee het.

Dit dieretuinpersoneel was oorstelp van vreugde – die geboorte van pandawelpies is in veral Frankryk geen alledaagse verskynsel nie en die eerste welpie in dié land is eers in 2017 gebore.

Die dieretuin sê die tweeling is omstreeks 01:00 gebore. Die geslag van die welpies is nog nie bevestig nie.

“Die twee welpies is pragtig en heeltemal gesond. Hulle lyk groot genoeg,” sê Rodolphe Delord, bestuurder van die Beauval-dieretuin.

Die trotse ma en haar welpies [Foto: Guillaume Souvant, AFP]

Die tweeling se ma, Huan Huan, en pa, Yuan Zi, het in 2012 in Frankryk aangekom nadat China die diere aan die land “geleen” het. Dit is destyds beskou as ʼn teken van die versterking van diplomatieke bande tussen Parys en Beijing.

Pandas plant oor die algemeen moeilik voort. Volgens kenners is min pandas in die bui vir voortplanting en selfs wanneer hulle is, is dit asof die diere nie juis weet wat om daaromtrent te doen nie.

Die tydperk vir bevrugting is boonop kort. Pandas is net een keer per jaar vir tussen 24 tot 48 uur op hitte.

Die geslag van die welpies is nog nie bevestig nie [Foto: Guillaume Souvant, AFP)

Yuan Zi en Huan Huan het in Maart gepaar. Net om seker te maak, het veeartse ook kunsmatige bevrugting gedoen.

Huan Huan se pasgebore welpies sal eers oor 100 dae name kry. Die Chinese president, Xi Jinping, se vrou, Peng Liyuan, sal die name kies.

Groot opgewondenheid heers nadat ʼn pandabeer in die Beauval-dieretuin in Saint-Aignan, Frankryk, Maandag geboorte aan ʼn tweeling gegee het [Foto: Guillaume Souvant, AFP]

Huan Huan se eerste welpie, Yuan Meng, weeg al meer as 100 kg en word vanjaar na China gestuur. Daar is na raming 1 800 pandas in China wat in die wildernis leef, terwyl nog sowat 500 in aanhouding gehou word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kathleen ·

Altyd lekker om nuus te lees oor sulke oulike besonderse diere . hulle is so klein , kom ons glo en vertrou hulle sal mooi groot pandas word .

Elinette ·

Ag nee, hoekom word die panda’s in hokke aangehou met ystertralies ……………… Is dit nie beter vir hulle om in kampe te wees waar hulle meer vryheid het nie?

Karina ·

So ‘n groot panda met die ou kleinste kleinste babatjies. Sy is so sag met hulle. Dankie Maroela Media vir die mooi berig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.