Video: Slegs vyf noordelike witrenosters oor

Angalifu, die witrenoster wat by San Diego-dieretuin in Amerika gesterf het (Skermskoot uit video)

Angalifu, die witrenoster wat by San Diego-dieretuin in Amerika gesterf het (Skermskoot uit video)

Net vyf noordelike witrenosters is nou nog wêreldwyd oor, nadat Angalifu, ‘n renosterbul van die San Diego-safaripark in Amerika, dood is.

Angalifu het 44 jaar oud geword en is aan ouderdomskwale dood, maar sy afsterwe het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Wetenskaplikes vrees die noordelike witrenoster is nou van uitsterwing verseker.

Teen die middel van die vorige eeu was daar na raming nog sowat 500 van hierdie soort in die natuur oor, maar stropery het die getal teen die tagtigerjare na 15 verminder. Teen die begin van die eeu het die getalle weer tot 32 toegeneem, maar in 2003 het stropery weer begin toeneem, sodat dit teen 2008 vermoedelik heeltemal in die natuur uitgewis was.

In Desember 2009 is die laaste vier noordelike witrenosters wat nie te oud was om te kalf nie, van die Dvůr Králové-dieretuin in Tsjeggië na die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia oorgeplaas in die hoop om hierdie soort te red. Die dieretuin beskik oor ’n wêreldberoemde sentrum om bedreigde spesies te laat voortplant, maar die noordelike witrenoster plant baie moeilik in gevangeskap voort. Die twee bulle en twee koeie se horings is verwyder, enersyds om hulle van stropers te probeer vrywaar, en andersyds om te verseker dat die horings natuurlik uitgroei. In die dieretuin groei die horings weens voortdurende skuurdery teen die tralies agtertoe.

Een van die bulle is ondertussen aan onbekende oorsake dood, met slegs die bul Sudan wat nog op ’n natuurlike manier ’n suiwer nageslag vir dié diere kan verseker.

In ’n stadium het Kenia tot drie gewapende wildbewaarders per dier toegewys om die stropers weg te hou.
Spermselle en ander genetiese materiaal word by die diere wat in gevangeskap doodgaan geoes en bewaar met die hoop dat tegnieke ontwikkel sal word om die diere later deur proefbuisbevrugting te laat voortleef.

Pogings is ook reeds aangewend om van die oorblywende diere met van die suidelike witrenoster te laat kruis om minstens ’n deel van die genetiese materiaal te bewaar. Wetenskaplikes verskil egter van mekaar oor of die suidelike en noordelike witrenosters verskillende spesies of subspesies is. Op die oomblik is hulle as subspesies van mekaar geklassifiseer, maar die jongste navorsing dui daarop dat hulle geneties en anatomies te veel van mekaar verskil, en waarskynlik reeds ’n miljoen jaar gelede van mekaar geskei geraak het.

Bronne: Trouw, Wikipedia, Volkskrant, Washington Post, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.