[Video] Só lyk Tiger Woods toe polisie hom aftrek

‘n Skermskoot uit die video

Beeldmateriaal wat die polisie van die Amerikaanse deelstaat Florida uitgereik het, wys hoe die gholfster Tiger Woods tydens ʼn nugterheidstoets nie op ʼn reguit lyn kan loop of sy skoenveters kan vasmaak nie.

Maroela Media het vroeër berig Woods (41) is omstreeks 03:00 Dinsdag naby sy huis in Jupiter, Florida, vasgetrek en omstreeks 07:00 by ʼn plaaslike gevangenis “ingeboek”, maar ʼn paar uur later sonder enige borgtog weer vrygelaat.

Hy het later ʼn verklaring uitgereik waarin hy ontken dat hy onder die invloed van alkohol was ten tyde van sy inhegtenisneming. Volgens die gholfster het hy bloot ʼn “onverwagse reaksie” op voorskrifmedikasie gehad.

Op die beeldmateriaal kan egter gesien word hoe Woods die nugterheidstoets dop soos hy wankelrig op ʼn reguit wit lyn in die pad probeer loop.

Volgens ʼn polisieverklaring was hy aan die slaap agter die stuur van die motor toe hy voorgekeer en sy motor van die pad afgetrek is.

Woods het egter ten sterkste ontken dat die voorval enigiets met alkohol te make gehad het.

“Ek wil hê die publiek moet weet dat alkohol nie betrokke was nie. Wat gebeur het, was ʼn onverwagse reaksie op voorskrifmedikasie. Ek het nie besef die mengsel van medikasie kan my so erg aantas nie. Ek wil met my hele hart om verskoning vra aan my familie, vriende en aanhangers. Ek verwag ook meer van myself. Ek sal alles in my vermoë doen om seker te maak dat dit nooit weer gebeur nie.”

Woods het 14 groot toernooi-oorwinnings agter sy naam, maar geen sedert 2008 nie. Sedert 2013 het hy deurlopend gesukkel om sy staal op die gholfbaan te wys weens verskillende beserings en twee rugoperasies. Volgens Forbes-tydskrif is Woods die eerste sportman ooit om meer as 1 miljard dollar te verdien.

Woods het gehoop om in 2017 terug te keer na professionele gholf, maar het hom vroeër aan die meesterstoernooi in Augusta onttrek.

https://youtu.be/4wgjafhMS6Y

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

anton ·

Kyk as hy nie onder die prop was daar nie, is my naam ”Boggom”
As hy dan medisyne gedrink het, seker omdat hy siek was, wat het hy 3 uur die oggend op die pad gemaak?
As dit hom dan so aangetas het, sou hy soos n klip geslaap het!!!
Neewat party mense kom maar net weg met moord en ander nie. Geld het seker gepraat!!!

Cherokee ·

So jy glo nie hy het medisyne gedrink nie? Wie sal weet? Ek dink dat dit waarskynlik wel ‘n mengsel van medikasie was wat hom aangetas het.
Dit is duidelik dat jy nog nooit van Boegoe Brandewyn gehoor het nie!

Hoe nou? ·

Hoe nou? “Sy motor van die pad afgetrek is” terwyl ‘n video vandag op oorsese nuus wys waar die polisie hom nader met sy voertuig half van die pad af, regter rigtingwyser lig is aan en die remligte is ook aan terwyl die enjin luier maar hy is in droomland. Daar word ook gemeld dat die alkoholtoets NUL is.
Iewers is iemand besig met stories wat nie heeltemal reg is. Moet net nie dink dat ek sy optrede goedpraat wat ook sy verlede betref.

Toets ·

Watse wit strepe is daar in die pad? Hier by ons is nie sulke goete. Hier word jy getoets deur te kyk of jy om die slaggat loop of in dit trap.

Riaan ·

Loshande die geduldigste spietkop wat ek nog ooit gesien het.

Fires ·

Kon toe nie sy beste voetjie voorsit, as dit Suid Afrika was kon hy met ‘n bribe weggekom het

Jaco Grobler ·

Aag ou Tiger, waarvoor om verskoning vra, jy is maar net mens? Waarom mense so behep is met wat ander van hulle dink is vir my so sinnelose mors van tyd.

Wouter ·

Die kar wat Tiger ry het n sensor in wat as jy oor die “limit” is skakel hy eers jou rigtingwysers aan en as jy nie stilhou nie stop die kar vanself en jy ry nie verder nie. My kar het dit ook in.

anton ·

Wouter, watter motor het jy? Of maak jy nou grappies?
Ek het al gehoor hulle werk aan so n moontelike motor maar dink nie dit bestaan reeds nie.

Ilze ·

Dis mos duidelik die man is onkapabel. Of dit nou drank of medisyne is. Is dit nou nodig dat hy deur die voetjie voor voetjie truuk moet gaan. Hy kan kwalik regop bly.

anton ·

Cherokee, Boegoe brandewyn koop jy by die drankwinkel en nie by n apteek nie!!!
Daar is alkohol in.
Dink elkgeval dit kom nie in Amerika voor nie.
Wetgewing daar maak dit elkgeval teen die wet om medisyne wat jou kan aantas/ lomerig maak te gebruik en dan n voertuig te bestuur.

Janine ·

Poepdronk met sy Nike broek whaha ‘n Kaalvoet miljardêr

Justice ·

Ten minste is dit sonder enige twyfel dat die polisieman nie op enige sterk medikasie of gesuip by die werk was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.