Video: Temapark op ou olieplatform ʼn ‘wêreld eerste’

Die beplande aantreklikheid. (Foto: Public Investment Fund)

Saoedi-Arabië beplan om sy petroleumbedryf as inspirasie te gebruik om ʼn splinternuwe temapark op ʼn ou olieplatform te bou. Dit sal die eerste van sy soort ter wêreld wees.

Dié Midde-Oosterse land het onlangs sy planne aangekondig om een van sy olieplatforms in ʼn toeriste-aantreklikheid te omskep.

ʼn Video van die beplande aantreklikheid is verlede week op die finansieringsmaatskappy se Twitter-rekening gedeel.

Die video wys dat die 150 000 vierkante meter platform verskeie oornaggeriewe en ekstreme aktiwiteite sal insluit.

Die projek, wat deur die land se openbare beleggingsfonds onderneem word, sal drie hotelle en 11 restaurante hê, wat deur ʼn aantal aparte platforms gekoppel word. Die park sal ook verskeie tuimeltreine en ander aktiwiteite soos valskermspring en rekspring insluit.

“Hierdie projek is ʼn unieke toerisme-aantreklikheid wat na verwagting duisende mense van regoor die wêreld sal lok,” lui ʼn verklaring deur die finansieringsmaatskappy.

Dit is nog nie bekend teen wanneer die park voltooi sal wees of wat die koste sal beloop nie.

“Ons sal wel verseker dat die projek die toonaangewende standaarde en beste praktyke sal volg om die omgewing op ʼn volhoubare wyse te bewaar.”

Die beplande aantreklikheid word ontwerp in ooreenstemming met die land se langtermynplan om hom as ʼn top- internasionale toeristebestemming te herposisioneer.

Die land het net maande vantevore aangekondig dat hy die wêreld se vinnigste tuimeltrein elders in die land gaan bou. Die tuimeltrein sal in ʼn park in ʼn nuwe stad naby die hoofstad, Riyadh, gebou word en sal na verwagting in 2023 voltooi wees.

Terwyl miljoene gelowiges elke jaar die pelgrimstog na die stad Mekka aandurf, veroorsaak die land se konserwatiewe wette, wat onder meer die vryheid van vroue beperk, dat minder internasionale toeriste dié land besoek.

Saoedi-Arabië is egter vasbeslote om homself as ʼn aanloklike vakansiebestemming te bemark wat kan meeding met die nabygeleë Dubai en Abu Dhabi.

Die land hoop om byna 100 miljoen toeriste teen 2030 te lok.

CNN berig dat planne vir ʼn tweede nasionale lugredery reeds vroeër vanjaar deur die land se prins Mohammed bin Salman goedgekeur is. Die land beplan ook om in die volgende jaar altesaam $147 miljard in vervoer en logistiek te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Briljante idee. Met ‘n toenemde afname in olie aanvraag( elektriese motors) is die land een voor. Moslem reels kan egter probleme skep

Strandloper ·

Dalk n goeie idee vir die parlement ook… hulle is net so nutteloos…bonus nare al reeds daar

Johnny ·

“temapark”? MM – dis mos nou sommer ‘n oorgeklankte weergawe van die Engelse woord “theme park”.
Julle is ‘n Afrikaanse blad en is veronderstel om die taal in stand te hou, nie te verfrommel nie.

Misky ·

Dis nog altyd tema parke genoem indien dit ‘n sekere tema behels. Pretparke is iets heel anders en gaan eintlik net oor die ritte wat geneem kan word.

Blikkies ·

Ou Johnny, help ons gou reg, wat is die korrekte Afrikaans vir ‘Theme Park’ ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.