Video: Tiener bots met beer om honde te red

‘n Skermskoot uit die video.

Sosiale media is aan die gons nadat ʼn video van ʼn 17-jarige tiener van Kalifornië gedeel is waar sy met ʼn beer stoei om haar honde te beskerm.

Die tiener het Maandag in haar familie se agterplaas op die beerwyfie afgekom. Dit was egter eers toe die beer een van die gesin se honde aan sy onderbaadjie optel, wat die vreeslose tiener ingegryp het.

In die video kan gesien word hoe ʼn beerwyfie en haar welpies op ʼn tuinmuur loop voordat vier honde op hulle afgestorm kom. Die welpies hardloop vinnig terug na die boom, terwyl die beer na die honde gryp.

Die beer kry eindelik een van die honde beet en tel hom aan sy onderbaadjie op.

Die Yorkshireterriër, wat ook ‘n dienshond is, wat Hailey gered het. (Foto: @realestatebeauty/Instagram)

Sekondes later storm ʼn tiener op die beer af en stoot haar van die muur af. Die tiener val op haar knie, spring skielik op en gryp een van die honde en hardloop na die huis vir veiligheid. In die agtergrond kan gehoor word hoe die tiener se ouers van binne die huis na haar roep.

Die beer word weer vlugtig gesien soos dit oor die muur loer, voordat die dier weer op die muur spring en wegloop.

Beeldmateriaal van die voorval is deur die gesin se kringtelevisie opgeneem en is later deur die tiener, Hailey Morinico, se ma, Citlally Morinico, op sosiale media gedeel.

Hailey het later aan CBS Los Angeles vertel dat sy nie enige ernstige beserings tydens die voorval opgedoen het nie.

“Ek het net my vinger verstuit en my knie seergemaak, maar andersins is ek OK.”

Volgens dié vreeslose tiener wou sy net haar honde van die beer beskerm.

“In daardie oomblik het ek nie baie tyd gehad om te dink nie. My eerste instink was om die beer van die muur af te stamp sodat sy hopelik my hond kan los. Hierdie keer was ek maar net gelukkig gewees,” sê sy.

Hailey Morinico tydens ‘n onderhoud met CBS. (Foto: Skermskoot)

Volgens wildkenners het die beer haar welpies van die honde probeer beskerm, en het sy moontlik ook net op haar instink gereageer.

“Kalifornië het net swartbere en hulle is nie inherent aggressief teenoor mense of diere nie. Die beer het gereageer op die gevaar wat voor haar was, wat in hierdie geval die honde was,” berig CBS.

Volgens ʼn Instagram-plasing deur Hailey se ma is die hond wat die beer gegryp het ʼn Yorkshireterriër wat ook dien as ʼn dienshond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gerhardus ·

As sy ‘n Trump ondersteuner was, het die opskrifte gelees: “Ongevoelige diere hater val onskuldige beer aan. Sy moet om verskoning vra vir die beergemeenskap en al haar sosiale media profiele moet onmiddelik gekanselleer word”.

Piet Pompies ·

hoe dan nou anders – arme beer – die beer het mos ook gevoelens :)

Jacobus ·

Twee moeders wat albei hulle “kinders” wil bekerm. Wow sy is dapper. Die meisie en die Beer!

Barend ·

‘n Beer kenner sê jy moet ‘n klein klokkie om jou nek hang en ‘n botteltjie pepersproei saamdra. Swart bere is normaalweg nie aggresief nie. Om die verskillende bere in jou omgewing uit te ken moet jy na hul ontlasting kyk. Swart bere s’n is bruin en ruik na plantmateriaal. Grys bere (grissly) s’n het gewoonlik klein klokkies in en ruik sterk na peper.

Sandra ·

Shame mens kan sien sy beskerm net haar kleintjies. Bly almal het ongedeerd daarvan afgekom.

Cherokee ·

Die beer is bruin! En groot!
Die meisiekind kon haar afgetel het vanaf die muur en nie afgestamp het nie!
Wag, laat ek weer dink….
Wat ‘n dapper meisiekind! En sy hardloop nie weg sonder om die kleinste hond op te tel en saam te neem :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.