[Video] Tom Cruise beseer in waagtoertjie vir nuwe fliek

‘n Skermskoot uit die video

Die Amerikaanse akteur Tom Cruise (55) is die afgelope naweek in Londen beseer tydens die opname van ʼn waagtoertjie vir die fliek Mission Impossible 6.

Beeldmateriaal wys hoe die akteur van die dak van een gebou tot op die volgende wil spring, maar teen die muur van die gebou inploeg toe hy die dak met enkele sentimeters mis spring. Die akteur was aan veiligheidskabels gekoppel en het dus nie na die grond geval nie.

In die video kan gesien word hoe die akteur hom teen die muur optrek en dan hinkepink voor hy uit die video verdwyn.

Volgens The Independent is die omvang van sy beserings nog nie bekend nie.

Die akteur is daarvoor bekend dat hy die meeste van die waagtoertjies in sy aksieflieks self doen. Hy het onder meer die toertjies vir die vliegongeluk-toneel in The Mummy gedoen én aan die kant van ʼn regte passasiersvliegtuig vasgeklou terwyl dit gaandeweg versnel het in Mission: Impossible – Rogue Nation. Volgens TMZ moes dié toneel sowat agt keer oorgeskiet word.

Cruise is sedert begin vanjaar talle kere afgeneem waar hy waagtoertjies uitvoer vir Mission Impossible 6. Hy het al onder meer met ʼn motorfiets in ʼn motor ingeploeg en valskerm gespring in Oxfordshire in Engeland.

https://youtu.be/ebrw_2HydrQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

snoefie ·

outoppies behoort mos hulle perke te ken. kom wysheid dan nie met die grysheid nie?

anton ·

Ek hoop ek kan op 55 nog so vol lewe wees soos hy.
Jy mag maar Tom…..

Flip Nöthling ·

Ek hou baie van Tom Cruise se films en sy spel.
Ek haal my hoed vir hom af vir sy toewyding en vaardigheid.
Ek verstaan nie hoekom iemand vir iemand anders se egte seerkry lag nie. Dit is dalk Tom Cruise se skuld, omdat hy dalk ons sensitiwiteit afstomp met sy uitstekende toertjies.
Hou so aan, Tom! Ek hoop jy maak sakke vol geld.

Theresa ·

O aaaaaaaaaaarde! Op 55 nog vreeslik aantreklik en dan nog aktief en op-en-wakker ook! Het baie moed om nog waagtoertjies te doen! Duidelik nog nie oud nie. Seker geskrik toe hy die sentimeters mis wat hy moes raak spring. Go! Tom, Go! Sien uit na die fliek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.