Video: Tornado saai amok in Tsjeggiese Republiek

Die tornado het die lewens van vyf mense geëis en 63 beseer. (Foto: Helmut Fohringer / APA / AFP)

Vyf mense is dood en 63 beseer toe ’n tornado Donderdag verskeie dorpe in die Tsjeggiese Republiek getref het. Die tornado het ook meer ’n 1 000 huise beskadig of vernietig.

Tydens die storm het reusehaelkorrels – glo so groot soos tennisballe – ’n aftreeoord en dieretuin in die stad Hodonin beskadig. Inwoners van die aftreeoord is sedertdien na ’n nabygeleë hotel geneem.

Die tornado het ook talle geboue, kerke, motors en bome vernietig en verskeie brande tot gevolg gehad.

Meer as 78 000 huise en werksplekke was teen Vrydagoggend nog sonder krag.

Erge skade is ook aan verskeie wingerde asook ’n wynlandgoed, wat as ’n Unesco (Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie)-wêrelderfenisgebied gelys is, in die dorp Valtice aangerig.

Die weermag asook as ’n spesiale soekspan is ontplooi om nooddienswerkers met reddingspogings te help.

Volgens Marek Babisz, burgemeester van Hrusky wat die ergste deur die storm getref is, sê ingenieurs is tans besig om skadebepaling te doen om te kyk watter huise gesloop of gered sal word.

“Skoonmaakpogings word tans uitgevoer en ons is besig om kos en water aan inwoners te versprei.”

Dit was die eerste tornado wat die land in 17 jaar getref het ná een in 2004 sowat 50 huise beskadig het.

???? Tornado in South Moravia: Hodonín Hospital reports "several deaths" and dozens of people injured.The deputy mayor of…

Posted by Prague Morning on Thursday, June 24, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dana ·

My geboorteland. Altyd hartseer om van natuurrampe te lees wat sulke chaos veroorsaak. Gelukkig het ek nie familie in daardie gedeelte van die land nie. Blykbaar is dit die ergste tornado wat die land nog getref het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.