Video: Vakansieganger probeer haai-slagoffer help

Mark Hickey, die vakansieganger wat Paul Wilcox probeer red het (Skermskoot uit die video)

Mark Hickey, die vakansieganger wat Paul Wilcox probeer red het (Skermskoot uit die video)

ʼn Man is Dinsdag by die gewilde Byron Bay in Australië dood ná ʼn haai hom aangeval het, ondanks pogings deur ʼn vakansieganger om sy lewe te red.

“ʼn Vakansieganger, Mark Hickey, moes ongeveer 15 meter van die kuslyn af in die see in swem om die man te help,” het inspekteur Bobbie Cullen, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die slagoffer, ʼn man in sy 50’s, het ernstige beserings aan sy regterbeen opgedoen. Die Daily Mail het intussen die slagoffer uitgeken as Paul Wilcox, ‘n IT-ingenieur oorspronklik van Warwickshire in Engeland. Hy en sy vrou Victoria bly al 24 jaar lank in Byron Bay. Klik hier om meer te lees.

Cullen het gesê Hickey se optrede was heldhaftig en die polisie bedank hom vir sy poging.

Hickey, ʼn prokureur wat met vakansie was by Byron Bay, het aan Ten Network-nuus gesê hy het die haai en sy bebloede slagoffer gesien en het in die see gespring om die man te probeer red. “Ek weet nie, ek het net gedink ek moet hierdie persoon help en dis wat ek probeer doen het,” het hy gesê.

Die slagoffer, Paul Wilcox Foto: Daily Mail

Die slagoffer, Paul Wilcox Foto: Daily Mail

Hy kon Wilcox na die strand toe sleep en het 20 minute lank probeer om hom by te bring. Hy het reeds baie bloed in die water verloor en is vermoedelik reeds in die water oorlede. Ten het berig die haai het deur die man se duikpak gebyt en ʼn groot gedeelte van sy been afgeskeur.

Die wonde word ondersoek om die tipe haai en sy grootte te identifiseer.

Cullen het gesê die bemanning van reddingshelikopters het later gesê hulle het vermoedelik ʼn witdoodshaai in die gebied opgemerk. Sy het gesê Byron Bay se strande is vir 24 uur lank gesluit.

Byron Bay, naby Cape Byron, sowat 800 km noord van Sydney, is ʼn gewilde strand vir branderplankryers.

Dit is die eerste noodlottige haai-aanval in Australië sedert 3 April toe ʼn 63-jarige vrou in Tathra aangeval is.

Australië meld gemiddeld jaarliks minder as twee noodlottige haai-aanvalle aan.

http://youtu.be/VuD5jMZKc28

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.