Veiligheidstelsels geloof vir Grosjean se lewe

Romain Grosjean word weggelei van die ongelukstoneel (Skermgreep uit die video)

Beamptes van Formule Een het Sondag moderne veiligheidstelsels geloof ná Romain Grosjean ʼn hoëspoedongeluk tydens die eerste rondte van die Bahrain Grand Prix oorleef het.

Alan van der Merwe, die Suid-Afrikaans gebore renjaer en nou amptelike bestuurder van die mediese voertuig by F1, was binne sekondes op die toneel saam met hoof- mediese beampte dr. Ian Roberts. Hulle moes die vlamme trotseer om Grosjean se lewe te red.

“Dis ʼn wonderwerk dat hy leef,” het die Brit Damon Hill, 1996-wêreldkampioen gesê. Hy was Ayrton Senna se spanmaat toe Senna in 1994 tydens die San Marino Grand Prix oorlede is.

“Dit was ʼn groot verrassing vir ons ook,” het Van der Merwe gesê. “Ons het in 12 jaar nog nie soveel vlamme gesien nie. Romain het self begin om uit die motor te klim – wat opsigself ʼn wonderwerk is ná só ongeluk. Dit was ʼn verligting om te sien hy is oukei. Dit wys net, al die stelsels wat ons ontwerp, werk hand-in-hand – die wensbeen wat die bestuurder se kop beskerm, die versperrings, die veiligheidsgordels … alles het gewerk soos dit moet. Sonder een van hierdie dinge sou dit ʼn ander uitslag gewees het.”

Grosjean het beheer verloor oor sy Haas-motor ná hy die voorste linkerwiel van Daniil Kvyat se Alpha Tauri skrams getref het. Sy motor het in die versperring vasgejaag toe hy skielik van 250 km/h rem getrap het en die voorste deel van die motor het die staal heining getref.

Die 34-jarige Grosjean se motor het met impak aan die brand geslaan.

Ooggetuies sê dit is die wensbeen (ʼn sogenaamde “halo”) wat sy lewe gered het toe hy deur die versperring gebars het, omdat die balk die versperring bo sy kop opgelig het.

Guenther Steiner, hoof van die span by Haas, het al die beamptes bedank. “Hulle het ʼn fantastiese werk gedoen om hom so vinnig as moontlik van die brand weg te kry. Dit was ongelooflik. As mens so iets sien gebeur, dan dink mens net ‘ek hoop ons is gelukkig’ – mens dink nie hoe of wat gebeur het nie.”

Klik hier om ‘n video van die voorval te sien

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Herinner my aan my liefdadigheidspoging in die 70s toe ek ‘n brandende opgedoen-vir-resies Ford Fairlane deur ‘n brandende bus gejaag het. Daardie veiligheidstelsels moet 200% akkuraat wees of jy is dood!

Eend Bessinger ·

Daardie “halo” is ‘n lewensredder! En moenie die ander veiligheidstoestelle vergeet nie!

Ronel ·

Veiligheidsmaatreëls in enige sport is baie belangrik. My seun het einde laasjaar sy kar op die oval track baan gerol en die naweek het van ons vriende syne gerol. Roll cage, 5punt harnas, helmet, nekstur, al daai goed is daar vir ‘n rede. Dankbaar dat die renjaer veilig is.

Duck ·

Ja, wie onthou nog vir Deon De Waal nommer 44 hier op Goodwood se stockcar baan daar in die 70’s, Die ou het ook altyd so deur busse gespring met sy stockcar….ai daardie jare, toe was ek nog ‘n laaitie.

Martie Smartie ·

Dis snert dat Alan vd Merwe of enige iemand anders daai ou se lewe gered het. Dis duidelik op die opname dat hy self uit die vlamme oor die veiligheidsheining geklouter het. MM miskien moet julle so nou en dan berigte vir feitelikheid nagaan en nie goedsmoeds vertaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.