Video: Vyf ontsnap uit Sydney-gyselaarsdrama

'n Lindt-werknemer ontsnap op 15 Desember 2014 nadat 'n gewapende man 'n paar mense gyselaar geneem het Foto: NBC News

‘n Lindt-werknemer ontsnap op 15 Desember 2014 nadat ‘n gewapende man ‘n paar mense gyselaar geneem het Foto: NBC News

Vyf mense kon Maandag ontsnap nadat ʼn terroris ʼn onbekende aantal mense in ʼn Lindt-kafee in Sydney, Australië gyselaar geneem het.

Die persone word gyselaar gehou deur ʼn gewapende man wat hulle dwing om ʼn IS-vlag omhoog te hou.

Twee mans en twee vroue met restaurant-uniforms het kort na mekaar deur die voordeur ontsnap. Een man wat ʼn voorskoot gedra het, het deur die agterdeur ontsnap en gesê “moenie skiet nie”, het ABC News berig.

Beeldmateriaal wys hoe twee gyselaars ʼn swart vlag teen die venster van die Lindt-kafee in Sydney se Martin Place omhoog hou. Op die vlag staan daar in Arabies: “Daar is geen god buiten god, en Mohammed is sy boodskapper.”

Gyselaars het plaaslike uitsaaiers gebel om boodskappe van die skieter oor te dra, insluitend sy eis vir ʼn vlag van die Islamitiese Staat (IS) en dat hy oor die radio met die eerste minister wil praat. Hulle voer ook aan hy het vier bomme geplant – twee in die kafee, en twee elders in die stad, het Channel 10 TV berig.

Die polisie het egter aangedui dat hulle die gyselaarsdrama nog nie as ʼn terreuraanval beskou nie en hulle oorweeg alle moontlikhede terwyl hulle die onderhandelinge voortsit. “Polisieonderhandelaars het kontak gemaak en die kommunikasie duur voort,” het Catherine Burn, adjunkpolisiekommissaris in New South Wales gesê.

Tony Abbott, die eerste minister, het die moontlikheid bevestig dat die drama, wat vroeg Maandagoggend begin het, polities gemotiveer is, maar doen ʼn beroep op die publiek om verdraagsaam te bly. “Australië is ʼn vreedsame, oop en vrygewige samelewing. Niks moet dit ooit verander nie,” het Abbott gesê.

Islamitiese leiers in Australië het ʼn gesamentlike verklaring uitgereik wat die gyselaarsdrama veroordeel. Prof. Ibrahim Abu Mohammed, ʼn Islamitiese wetgeleerde, het sy simpatie vir die slagoffers en hul families uitgespreek.

Beeldmateriaal op verskeie nuuskanale wys hoe ʼn middeljarige man met ʼn kort grys baard en ʼn swart bandana met Arabiese skrif daarop, met mense in die kafee praat. Hy dra ʼn swart rugsakkie, wit T-hemp en swart oorhempie.

Die gebied is afgesper en die parlement aan die einde van Martin Place is gesluit. Personeellede is aangesê om in hul kantore te bly en die deure te sluit. Die Amerikaanse konsulaat, ongeveer 50 meter van die kafee af, is gesluit en ontruim. ʼn Park in die stad en die bekende Sydney-operahuis is ook ontruim nadat verdagte pakkies aangemeld is. Vlugte word herlei van oor die sentrale besigheidsdistrik om glo sekuriteitsmagte die geleentheid te bied om helikopters te gebruik indien nodig. Talle ondernemings het ook hul deure gesluit en hul personeellede huis toe gestuur.

Steve Loane, uitvoerende hoof van Lindt in Australië, ht aan news.com.au gesê daar is moontlik tussen 40 en 50 persone in die kafee, insluitend personeellede en klante.

Die polisie in Australië het vroeër Maandag ʼn 25-jarige man in die weste van Sydney in hegtenis geneem nadat hy glo deel was van ʼn komplot om ʼn aanval op Australiese burgers wat na Sirië reis, te loods, het die ABC berig.

Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.