Videospeletjie ingesluit by Pole se hoërskoolsillabus

Skermgreep uit die speletjie “This war of mine”

Owerhede in Pole beplan om ʼn videospeletjie in hoërskoolsillabusse in te sluit oor oorlogslyding van burgerlikes.

Eerste minister Mateusz Morawiecki het Donderdag, tydens ʼn besoek aan die ontwikkelaar van die speletjie, 11bit studios, gesê videospeletjies kan kinders se verbeelding laat vergroot. “Dit bring ook iets nuut na die Poolse en wêreldwye kultuur.”

Videospeletjies is “ʼn nuwe manier van kulturele uitdrukking”, het hy gesê.

In die betrokke speletjie, “This War of Mine”, wat in 2014 bekendgestel is, word oorlog uitgebeeld uit die siening van burgerlikes wat probeer oorleef in ʼn besette stad, in plaas van die perspektief van soldate.

Dit is waarskynlik die eerste keer dat ʼn videospeletjie op ʼn nasionale vlak ingesluit word in ʼn kurrikulum wat gewoonlik slegs uit leesmateriaal staan, het Grzegorz Miechowski, uitvoerende hoof van 11bit studios, gesê. “Speletjies kan oor enigiets praat: emosies, waarheid, die stryd tussen goed en sleg, menslikheid, lyding … Dit is in dié geval soortgelyk aan letterkunde, maar die taal van interaksie word gebruik.”

Die videospeletjie-bedryf het die afgelope paar jaar baie toegeneem in Pole en die land is nou een van die grootste videospeletjie-uitvoerders wêreldwyd. Videospeletjie-vervaardiger CD Projekt, die studio wat die gewilde “The Witcher”-speletjie ontwikkel het, het die afgelope paar jaar die mees waardevolle firma op die Warskou-aandelebeurs geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Dis nie die Warsaw aandelebeurs nie. Die korrekte Afrikaanse naam vir die hoofstad van Pole is Warskou

Megan Swart ·

Dagsê Jaco
Dankie vir jou kommentaar. Dit moet inderdaad Warskou wees. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.