Vier dood in Parys-ontploffing

Die toneel van die gasontploffing in Parys, Frankryk (12 Januarie 2019). (Foto: Matthieu Croissandeau via AP)

Vier mense is dood, onder wie twee brandbestryders, nadat ʼn groot gasontploffing Saterdagoggend by ʼn bakkery in die sentrale gedeelte van Parys, Frankryk, plaasgevind het.

Christophe Castaner, Frankryk se minister van binnelandse sake, het die sterftes aan verslaggewers op die toneel bevestig. Nog 47 mense is beseer, van wie tien in ʼn kritieke toestand is. Hy het hulde gebring aan die twee brandbestryders wat gesterf het. Een van hulle was langer as twee uur onder puin vasgekeer.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het omstreeks 09:00 (plaaslike tyd) gebeur by die bakkery op die hoek van die strate Saint-Cecile en Rue de Trevise, vermoedelik weens ʼn gaslekkasie. Die ontploffing het omliggende geboue beskadig, voertuie verwoes en die vensters van nabygeleë geboue laat bars.

Remy Heitz, aanklaer in Parys, sê brandbestryders was reeds op die toneel om ʼn gaslekkasie te ondersoek toe die ontploffing plaasgevind het. ʼn Ondersoek sal gedoen word om presies vas te stel wat die gas laat ontplof het, maar owerhede is oortuig dat dit ʼn ongeluk was.

ʼn Ooggetuie het vertel hy het die oggend gesien hoe brandbestryders die bakkery binnegaan, maar het gedink dit is waarskynlik net ʼn vals alarm. Pedro Goncalves, wat by die Hotel Mercure oorkant die bakkery werk, sê ongeveer ʼn uur later het die ontploffing deur die omliggende strate geruk.

ʼn Reddingshelikopter staan gereed om beseerdes na hospitale te neem. (Foto: Thibault Camus/AP)

“Ek het net skielik ʼn massiewe ontploffing gehoor en ʼn lugdrukking met baie swart rook en glas het my getref. Ek kon net betyds daarin slaag om plat te val en my kop te bedek.” Goncalves sê hy het gevoel hoe goed, vermoedelik stukke glas, op hom val. Hy het agterna snywonde aan sy kop en bloedmerke op sy hemp en trui gehad.

“Dankie tog, ek is oukei,” het hy gesê en bygevoeg hy het ná die ontploffing ʼn fluitgeluid in sy ore gehoor. Hy het daarna net na die uitgang gehardloop om te kyk of hotelgaste seergekry het. Volgens Goncalves is die hotel deur die ontploffing “vernietig”.

Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, was ook op die toneel en het haar medelye met die slagoffers en hul naasbestaandes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Paris ·

Maroela AUB!!! Parys is in Suid Afrika en PARIS is in France. Asseblief hou op om name te probeer te Afrikaans. So we can change Maroela to Marula to get it in English!!

Estelle ·

Ag snert man. Ek is so oud soos die berge en daar was nog ALTYD ñ Parys, Frankryk en ñ Parys in die Vrystaat. Regtigwaar… dit is nou die enigste ding wat jou opgeval het in hierdie tragiese berig? Dalk ñ daadwerklike poging aanwend om die taal te bestudeer, want net soos wat die dorpie Hoopstad bv. nie vertaal kan word Hopecity in Engels nie, net so kan Parys, Frankryk maar Parys wees. Niemand is so dof om dit te kan verwar met die dorp Parys in die Vrystaat nie.

Afrikaans ·

Australia / Australië, Austria / Oostenryk……ons leer al van laerskool af dat Paris in Afrikaans Parys is.

Mariné Lourens ·

Dagsê Paris

Dankie vir jou kommentaar. Maroela Media gebruik die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat die Taalkommissie se deeglik nagevorsde skryfwyses bevat. Volgens die jongste AWS (11de druk; 2017) word buitelandse geografiese name en hul afleidings na Afrikaans vertaal, dus is Parys, Paryse en Parysenaar korrek. Dieselfde geld vir ander plekname, byvoorbeeld die “United States of America” wat in Afrikaans die Verenigde State van Amerika genoem word, of “London” wat Londen in Afrikaans is.

Maroela Media verwys ook in die berig na ‘Parys, Frankryk’ om enige moontlike twyfel te voorkom.

Hoop dit klaar vir jou die verwarring op.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

AUB ·

Liewe Paris, die Burgemeester van Stilbaai het gebel met die volgende voorstel: “Kom kuier asseblief in Shut up bay ons”

HPV ·

Met al hul gaste uit die midde-ooste, lees ook vlugtelinge, wonder mens maar hoe die gaslekkasie onstaan het.

Gert ·

paris ons verstaan wat maroela vir ons skryf , as jy sukkel om te verstaan en hou van engelse koerante stel ek voor jy lees die SOWETIN online .

t ·

Nou hoe gebeur dit dat in ‘n situasie waar gas lek, al die krag en gas nie afgeskakel en toegedraai is nie. As die brandweer reeds op die toneel was moes ontruiming al begin het. Of het ‘n brandweerman in ‘n blonde oomblik ‘n vuurhoutjie getrek om te kon sien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.