Vier dood ná betogers VSA-kongresgebou bestorm

Foto: Win McNamee/Getty Images/AFP

Die Amerikaanse kongres het laat Woensdag voortgegaan met die proses om Joe Biden se oorwinning in die presidentsverkiesing te sertifiseer.

Honderde ondersteuners van pres. Donald Trump het vroeër die dag die Kongresgebou (Capitol) in Washington D.C. bestorm en die proses tydelik ontwrig. Lede van die huis van verteenwoordigers en die senaat is deur polisiebeamptes uit die senaatsaal begelei nadat die betogers deur die deure van die gebou gebars, vensters gebreek en tot in die senaatsaal beweeg het.

Foto: John Moore/Getty Images/AFP

Traangas is gebruik nadat die polisie en betogers slaags geraak het. Minstens 14 polisiebeamptes is beseer terwyl meer as 50 betogers reeds in hegtenis geneem is. Die Nasionale Wag is ook ontplooi om die onluste te probeer bedwing wat vir langer as vier uur voortgeduur het. ’n Vrou is op die kongresterrein geskiet en gewond en het later aan haar beserings beswyk. Die omstandighede van haar dood word ondersoek. Die vrou was glo ’n vurige Trump-ondersteuner wat voorheen in die Amerikaanse lugmag gedien het. Volgens die polisie is nog drie mense dood weens ongespesifiseerde “mediese noodgevalle”.

Joe Biden (Photo by JIM WATSON / AFP)

Biden het die voorval as ’n gewelddadige opstand teen die regering beskryf. “Ons demokrasie word op ongekende wyse aangeval,” het Biden in sy tuisstaat Delaware gesê. “Dit is nie onenigheid nie. Dit is wanorde. Dit is chaos. Dit grens aan sedisie en dit moet nou eindig.”

Intussen word berig dat lede van Trump se kabinet die moontlikheid bespreek het om hom ingevolge die 25ste wysiging van die Amerikaanse grondwet uit sy amp te dwing. Die wysiging maak voorsiening vir die verwydering van ’n president deur die visepresident en die kabinet indien hy “nie in staat is om die magte en pligte van sy amp te vervul nie”. Biden word op 20 Januarie as die 46ste Amerikaanse president ingehuldig.

Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP

Voormalige Amerikaanse presidente het Woensdag se gebeure veroordeel. George W. Bush het die situasie vergelyk met ’n “piesangrepubliek”, terwyl Barack Obama vir Trump en die Republikeine die skuld gegee en na die voorval verwys het as ’n “oomblik van groot oneer en skande vir ons volk”.

Bill Clinton het die oproer veroordeel as ’n ongekende aanval op die Amerikaanse Kongresgebou en die land self. Die 96-jarige Jimmy Carter het die gebeure as ’n “nasionale tragedie” bestempel.

Facebook en Twitter het Trump intussen tydelik van hul platforms geskors. Trump sal vir 24 uur nie op Facebook of Instagram inskrywings kan maak nie, terwyl YouTube ’n video waarin Trump ’n boodskap aan sy ondersteuners stuur, verwyder het. Twitter het Trump se rekening vir 12 ure gesluit en gesê indien sekere twiets nie verwyder word nie, die rekening gesluit sal bly. Twitter het ook gesê dat enige toekomstige oortredings tot die permanente opskorting van sy profiel sal lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.