Vier dood nadat trok in groep vasjaag

Israeliese polisie op die toneel waar ʼn vragmotor in ʼn groep soldate vasgejaag het. (8 Januarie 2017). Foto: AP Photo/Mahmoud Illean

Israeliese polisie op die toneel waar ʼn vragmotor in ʼn groep soldate vasgejaag het. (8 Januarie 2017). Foto: AP Photo/Mahmoud Illean

Minstens vier mense is dood en 15 beseer, nadat ʼn vragmotor Sondag in ʼn groep soldate vasgejaag het terwyl hulle van ʼn bus in Oos-Jerusalem in Israel afgeklim het.

Drie vrouens en een man, almal in hul 20s, is dood in wat die polisie as ʼn “terreuraanval” beskryf. Minstens 15 mense is beseer, waarvan sommige kritiek is.

Benjamin Netanyahu, die Israeliese eerste minister en Avigdor Lieberman, die minister van verdediging, het die toneel onder streng polisiebewaking besoek. ʼn Spesiale kabinetsvergadering sou ná hul besoek gehou word.

Roni Alsheich, die hoof van die polisie, het die aanvaller as ʼn inwoner van Oos-Jerusalem beskryf en gesê hy is deur mense op die toneel doodgeskiet. Alsheich het bygevoeg daar was geen waarskuwingstekens voor die aanval wat dit kon verhoed nie.

Israeliese polisie op die toneel waar ʼn vragmotor in ʼn groep soldate vasgejaag het. (8 Januarie 2017). Foto: AP Photo/Mahmoud Illean

Israeliese polisie op die toneel waar ʼn vragmotor in ʼn groep soldate vasgejaag het. (8 Januarie 2017). Foto: AP Photo/Mahmoud Illean

Die polisie het die toneel afgesper en is besig met hul ondersoek, nadat ambulanse die beseerdes na hospitale gehaas het. Nooddienswerkers moes verskeie mense bevry wat onder die vragmotor vasgepen was. Volgens die plaaslike media het een van die nooddienswerkers dit as “die ergste aanval met ʼn voertuig ooit in Jerusalem” beskryf.

Nir Barkat, die burgemeester van Jerusalem, het inwoners gemaan om paraat te wees, maar nie toe te laat dat die aanval hul alledaagse take ontwrig nie.

Lea Schrieber, ʼn toergids wat die aanval sien gebeur het, het aan The Israel Project-organisasie gesê sy het gehoor hoe mense skree voordat sy gesien het hoe die vragmotor agteruit ry en vir ʼn tweede keer die soldate tref. Volgens die Times of Israel was die soldate in Jerusalem as deel van ʼn militêre inisiatief om troepe historiese plekke te wys.

Die Hamas-beweging het die aanval geloof en gesê dit is bewys daarvan dat die Palestynse opstand nog nie dood is nie, maar die beweging het nie verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Die aanval kom minder as ʼn maand na ʼn soortgelyke voorval in Berlyn, toe ʼn man met ʼn vragmotor in ʼn Kersmark in gejaag het en 12 mense dood en meer as 50 beseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

‘Hamas het dit geloof’ wat duidelik ‘n ooreenkoms toon met IS se gedrag na soortgelyke gebeure in Europa. Die vraag is of Hamas en IS saamwerk, wat sou beteken dat die korrupte terroriste-groep reeds op Jerusalem se drempel is. Trump het daadwerklike optrede teen die groep beloof wat reeds te lank deur sekere Westerse lande geduld word. Mens kan net wonder hoekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.