Vier dood, talle beseer ná aardbewing in Japan

Só lyk die ooste van Japan Donderdag ná ‘n aardbewing Woensdagaand getref het. (Foto: Charly TRIBALLEAU / AFP)

Vier mense is dood en meer as ʼn 100 ander beseer nadat ʼn aardbewing van 7,3 Woensdagaand die ooste van Japan getref het.

Die aardbewing aan die kus van Fukushima het ’n koeëltrein laat ontspoor, krake op snelweë tot gevolg gehad, produkte van winkelrakke laat afval en kragonderbrekings veroorsaak.

’n Tsoenami-waarskuwing vir golwe van tot ’n meter hoog in die noordooste van Japan is Donderdag in die vroeë oggendure opgehef. Dit volg nadat die plaaslike owerhede watervlakke tot 30 sentimeter hoër as gewoonlik in sommige gebiede aangeteken het.

Kleiner skuddings kon vroeër vanoggend nog gevoel word.

Hirokazu Matsuno, woordvoerder van die regering, sê vier sterftes is aangemeld, hoewel ondersoeke nog aan die gang is om te bevestig dat dié sterftes ’n direkte gevolg van die aardbewing is.

Só lyk die ooste van Japan Donderdag ná ‘n aardbewing Woensdagaand getref het. (Foto: AFP via NEXCO East Nippon Expressway Company)

Altesame 107 mense is beseer.

Minstens twee miljoen huishoudings in Tokio het Woensdagaand vir ʼn ruk sonder krag gesit voordat kragtoevoer deur die nag herstel is. Sowat 30 000 huishoudings is vanoggend egter nog sonder krag, terwyl 4 300 huishoudings sonder water sit.

Só lyk die ooste van Japan Donderdag ná ‘n aardbewing Woensdagaand getref het. (Foto: JIJI PRESS / AFP)

Die aardbewing het Woensdag kort ná 23:30 op ’n diepte van 60 kilometer plaasgevind. Volgens Japan se meteorologiese agentskap is die aardbewing van 7,4 enkele minute vroeër deur ’n skudding van 6,1 voorafgegaan.

“Ons het twee groot aardbewings gehad. Die eerste een was baie groot en het hard geskud. Ek het myself voorberei om te ontruim, toe die tweede, groter een tref,” het ’n munisipale amptenaar van die stad Soma in Fukushima aan AFP gesê.

“Ek was op die tweede verdieping van ’n tweeverdiepinghuis en ek kon nie my balans hou ​​nie; dit was baie erg.”

Japan word gereeld deur aardbewings getref. Die skuddings veroorsaak elke keer terugflitse na die tsoenami van 11 Maart 2011 wat 18 500 mense dood of vermis gelaat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Dink aan die mense. In SA sal sulke herstel van kragonderbrekings 3 maande neem en dan toi toi hul nog ook omdat iemand durf waag om krag af te sny

ES ·

Kyk nou na Japan, hulle gaan hierdie skade binne dae regmaak. kyk na Suid Afrika – die skade sou net so gelos word. Tenders sal uitgereik word vir herstel en in iemand se sak ingaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.