Vier dood, talle gewond ná moordtog

Die Rancho Tehama-pad in Kalifornië is afgesper na die skietvoorval (14 November 2017). Foto: Jim Schultz/The Record Searchlight via AP

Vier mense is dood en talle ander gewond nadat ʼn man met ʼn semi-outomatiese vuurwapen en twee handwapens Dinsdag op verskillende plekke in die dorp Corning in die noorde van Kalifornië op mense losgebrand het.

Die moordtog het tot ʼn einde gekom nadat die skieter deur die polisie doodgeskiet is. Minstens tien mense, insluitend twee kinders by ʼn laerskool in die dorp, is tydens die skietery gewond. Corning is ongeveer 160 km noord van Sacramento.

Adjunkpres. Mike Pence het die skietvoorval op sy amptelike Twitter-rekening betreur. “Ons loof die optrede van die dapper wetstoepassers. Ons sal voortgaan om die situasie te monitor en federale ondersteuning te bied terwyl ons bid vir die vertroosting en herstel van almal wat geraak word.”

Skote is by Rancho Tehama Elementary School afgevuur waar sommige mense gewond is, maar geen leerders of personeellede gesterf het nie.

Twee vroue buite die Rancho Tehama Elementary School (14 November 2017). Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Phil Johnston, ʼn woordvoerder van die owerhede in die Tehama-distrik, het tydens ʼn nuuskonferensie bevestig dat die skieter drie vuurwapens by hom gehad het. Hy het nie die skieter se naam bekendgemaak nie.

The Sacramento Bee-koerant het egter verskeie wetstoepassers aangehaal wat later die verdagte as Kevin Janson Neal (43) geïdentifiseer het. Neal was ʼn plaaslike inwoner wat in Februarie in hegtenis geneem is nadat hy na bewering een van sy bure met ʼn skerp voorwerp gesteek het.

Johnston het nie ʼn motief vir die skietery gegee nie. Die plaaslike koerant, Redding Record Searchlight, het berig die skietery het begin toe die skieter omstreeks 08:00 plaaslike tyd by ʼn huis en ses ander plekke losgebrand het.

Polisiebeamptes by ʼn bakkie wat betrokke was by die dodelike skietery in Corning, Kalifornië (14 November 2017). Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Coy Ferreira, ʼn ouer, het gesê hy het sy dogter by die skool afgelaai toe hy die skote gehoor het. “Een van die onderwysers het uit die gebou gehardloop gekom en vir ons gesê om binne te kom, want daar is ʼn skieter op pad,” het Ferreira aan ʼn plaaslike televisiestasie gesê. Ferreira het gesê hy het vir langer as 20 minute gehoor hoe skote afgaan en ʼn leerder in die kamer waar hy geskuil het, is gewond.

Brian Flint, ʼn inwoner, het aan die plaaslike media gesê die skieter is sy buurman en hy het sy bakkie gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

As vuurwapeneienaar in die VSA verstom dit my dat Amerikaners nie leer uit hulle foute nie. Hoeveel gewelddadige mense moet nog massamoorde pleeg voor hulle n ordentlike vuurwapen beleid implementeer? Hoe is dit moontlik dat hierdie man met sy geskiedenis asook die een van Texas verlede week toegelaat is om vuurwapens te besit? Die NRA moet wakker skrik en sy werk begin doen om verantwoordelike vuurwapen eienaarskap te bevorder.

Francois ·

Kalilornia het van die heel strengste vuurwapenwetgewing in die hele VSA. Dus is meeste wetsgehoorsame burgers ontwapen plus skole is maklike teikens vir sielsiekes weens die vuurwapen wetgewing wat deur Bill Clinton (Demokraat) onderteken is.
Die misdadiger was voorheen gearresteer vir die dreig van sy buurvrou met ‘n vuurwapen. Hy mag dus volgens wet nie vuurwapens besit nie. Om die NRA te blameer hiervoor is om al die hoofstroom media se praatjies te na-aap.

Trapmis ·

Moet nie die lepel blameer omdat iemand vet is nie. Vuurwapen wette sal geen verskil maak soos te sien in SA. In elkgeval is die werklike agenda hier om wetshoudende vuurwapen eienaars te ontwapen vir politiese redes. Dit is duidelik dat jy dit ondersteun. Geskiedenis bewys dat (Nazis) nie kon regkry voordat die publiek nie ontwapen was nie. Maar ons leer nie. So nou kry jy meer van die gevalle en mense soos jy roep uit vir strenger vuurwapen wette, totdat wapens simier verbied word…

Trapmis ·

O ja, dit is bewys dat meer mense in SA sterf deur mesaanvalle as deur vuurwapens…Maar ons het nie n’ probleem met messe nie? Hoekom nie?

Trapmis ·

Moet nie die lepel blameer omdat iemand vet is nie. Vuurwapen wette sal geen verskil maak soos te sien in SA. In elkgeval is die werklike agenda hier om wetshoudende vuurwapen eienaars te ontwapen vir politiese redes. Dit is duidelik dat jy dit ondersteun. Geskiedenis bewys dat (Duitsland) nie kon regkry voordat die publiek nie ontwapen was nie. Maar ons leer nie. So nou kry jy meer van die gevalle en mense soos jy roep uit vir strenger vuurwapen wette, totdat wapens simier verbied word…

Hendrik ·

Francois en Trapmis, geen wet help dit nie geimplonenteer word nie. Lees weer my kommentaar. Dan bestaan daar verder gate in die wet:
1) Geen federale wet nie, deelstaat gebasser.
2) Geen background checks vir privaat / gun show verkope in baie state nie.
3) Geen vereiste opleiding op vaardigheidstoetsing voor jy n wapen mag koop nie.
4) Onlangs het NRA selfs gewerk dat n wet wat verhoed dat mense wat sulke ernstige sielkundige afwykings het dat hulle nie na hulself kan kyk nie, nie vuurwapens mag besit nie, geskrap word.
5) Die NRA is gekant teen wetgewing wat bumpstocks sal verbied.
6) Geen verpligting rus op VSA burgers om hulle wapens of op hulle persoon te dra, of veilig toe te sluit nie.
Ek kan bladsye vol skryf. Ek het self vuurwapens en skiet gereeld. Maar saam met die vryheid om n wapen te besit, gaan ook verantwoordelikheid. Die NRA ver net vir die vryhede en teen die verantwoordelikhede.

Moord ·

Daar word vanoggend berig dat moord in Gauteng toegeneem het.

koos ·

Hendrik, wat jy wil he is merendeels wat SA het. I rest my case.

Hendrik ·

SA het n goeie wet wat swak geadministreer word. Die VSA beskik oor die kundigheid, tegnologie en hulpbronne om dit effektief te kan administreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.