Vier kinders oorleef ná vliegtuig in Amasone neerstort

Die digte Colombiaanse Amasone. (Foto: Raul ARBOLEDA / AFP)

Vier kinders, onder wie ʼn 11 maande oue baba, is lewend in die digte Colombiaanse Amasone gevind nadat ʼn vliegtuig byna drie weke gelede in die ruigte neergestort het.

Drie volwassenes, onder wie die vlieënier en die kinders se ma, het in die vliegongeluk op 1 Mei omgekom.

Meer as ʼn honderd lede van die Colombiaanse weermag, snuffelhonde en drie helikopters is sedertdien na die oerwoud gestuur om na die kinders te soek. Reusebome wat tot 40 meter hoog word en swaar reënval het die soektog egter bemoeilik.

Reddingswerkers glo die kinders van onderskeidelik 13, nege, en vier jaar oud, benewens die 11 maande oue baba, het sedert die ongeluk deur die oerwoud in die suidelike Caqueta-streek van Colombia gedwaal.

Avianline Charters, eienaar van die vliegtuig wat neergestort het, sê een van sy vlieëniers in die soekgebied het met hom meegedeel dat die kinders gevind is en dat hulle “met ʼn boot rivieraf geneem en almal lewend is”.

Daar is egter geen amptelike bevestiging dat die kinders heeltemal buite gevaar is nie aangesien donderstorms in die gebied ʼn risiko inhou totdat die kinders veiligheid bereik.

ʼn Baba se bottel en halfgeëte stukkies vrugte is aanvanklik tydens die soektog in die oerwoud gevind.

Die Colombiaanse weermag het later hul soekpogings verskerp nadat reddingswerkers op ʼn skuiling “wat op ʼn geïmproviseerde manier met stokke en takke gebou is” afgekom het.

ʼn Skêr, skoene en haarrekkies is ook tussen die takke op die oerwoudvloer gevind.

Die vliegtuig was aan die begin van die maand onderweg na San Jose del Guaviare, een van die hoofstede in Colombia se Amasone-reënwoud, toe dit neergestort het.

Dit is nie in dié stadium duidelk waar presies die kinders gered is en hoe hulle vir meer as twee weke alleen in die oerwoud oorleef het nie.

Dit is ook nie duidelik waarom die vliegtuig neergestort het nie.

Colombia se rampreaksieowerheid sê die vlieënier het probleme met die enjin aangemeld voordat dit minute later van die radar verdwyn het.

Lugvervoer is algemeen in dié deel van die wêreld aangesien daar min paaie is. Die  betrokke streek is ook moeilik bereikbaar per rivier.

Die kinders is van die inheemse Huitoto-gemeenskap, ook geskryf Witoto, wat bekend is daarvoor dat hulle in harmonie met die natuur in die afgeleë oerwoud leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bulkalf ·

Dit is kinders wat nie net sit en wag vir “handouts”nie. Kinders op wie ouers trots sou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.