Vier kinders sterf toe rukwind springkasteel skep

Vier kinders het in die fratsongeluk gesterf. (Foto: ABC News/Twitter)

Vier skoolkinders in Australië is dood en verskeie ander beseer in ʼn fratsongeluk met ʼn springkasteel.

Volgens die polisie in Tasmanië was leerders van ʼn skool in Devonport, in die noorde van Tasmanië, besig om die laaste week van skool voor die Kersvakansie te vier toe hulle van ʼn hoogte van nagenoeg 10 m geslinger is.

Die voorval het Woensdag kort ná 10:00 (Australiese tyd) gebeur.

“Ek kan bevestig dat vier kinders gesterf het. Vier ander is in ʼn bedenklike toestand en nog ʼn leerder in ʼn ernstige toestand,” het Darren Hine, polisiehoof van Tasmanië, gesê.

ʼn Rukwind het vermoedelik die springkasteel en reuseballe tot in die lug geskep.

Die slagoffers was twee seuns en twee meisies tussen gr. 4 en gr. 6 en almal is vermoedelik tussen 10 en 12 jaar oud.

Verskeie reddingshelikopters en ambulanse het na die toneel gejaag.

Foto’s van die skool wys huilende polisiebeamptes en ʼn menigte blou seile wat beamptes gebruik het om ʼn “uiters ontstellende toneel” te verberg.

ʼn Polisieondersoek is reeds van stapel gestuur en berading aan ooggetuies, vriende, familielede, onderwysers en nooddienswerkers gebied.

‘Verskriklike tragedie’

Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het die voorval as “absoluut verpletterend” bestempel en gesê dit is “ondenkbaar hartverskeurend”.

“Jong kinders op ʼn pretdag saam met hulle familie en dit verander in so ʼn verskriklike tragedie hierdie tyd van die jaar. Dit breek jou hart.

“Ek wil aan die ouers, familielede en vriende, almal wat daar was, die ander jong kinders wat die gebeure sien afspeel het, sê dat ek bid dat julle wonderlike familie en vriende om julle sal hê en deur hierdie aaklige tragedie sal kom.”

Die skool het ouers vroeër genooi om as vrywilligers by die pretdag te werk. Daar was onder meer ʼn waterspeelplek, ʼn kunsafdeling, groot balle en ʼn springkasteel.

Die skool het aanvanklik in ʼn plasing op Facebook gesê die doel van die dag is om prettige aktiwiteite vir die leerders van Hillcrest Primary aan te bied.

Die plasing is kort daarna deur nog een gevolg: “Daar was ʼn ongeluk op die perseel by ons skool. Ons sluit die skool vir die res van die dag.”

Die skool met sy nagenoeg 200 leerders het ouers ook gevra om hulle kinders as ʼn saak van dringendheid te kom oplaai.

Die plaaslike weerdiens het “ligte wind” voorspel vir die gebied wat aan Tasmanië se noordkus geleë is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Byekonfyt ·

Dit is bitter, bitter erg. Wat ‘n verskriklike hartseer storie. Die arme geliefdes wat nou hierdie vreeslike pad moet stap….

Mariaan ·

Agge neeeee!! Wat n tragedie! Mens het net nie woorde nie

Chris ·

Dit is tragies. Ek het al gehoor van volwassenes wat seer kry op die speingkastele.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.