Vier liggame gevind in soektog na Petito, verloofde

Gabby Petito en Brian Laundrie tydens hul toer deur die VSA. (Foto: North Port Police Department)

Die oorskot van vier mense is die afgelope twee maande gevind terwyl owerhede na die liggame van Gabby Petito en later haar verloofde, Brian Laundrie, gesoek het.

Die 22-jarige Petito het in Augustus vermis geraak terwyl sy en haar verloofde op toer was deur die VSA. Laundrie het later alleen teruggekeer huis toe. Tydens ʼn grootskaalse soektog na Petito het Laundrie egter ook vermis geraak.

Petito se oorskot is in September in die Amerikaanse deelstaat Wyoming gevind, terwyl Laundrie sʼn sowat ʼn maand later in ʼn natuurreservaat in Florida aangetref is.

In September, terwyl owerhede na Petito gesoek het, is die liggaam van Robert Lowery (46) net 65 km van dié van Petito aangetref.

People het berig dat die pa van twee op 20 Augustus as vermis aangemeld is. Hy is meer as ʼn maand later aan die voet van die Tetonpas in die Bridger-Teton- nasionale park aangetref.

ʼn Nadoodse ondersoek toon dat Lowery weens ʼn self toegediende skietwond in die kop gesterf het.

Tydens die soektog na Laundrie het owerhede verskeie oproepe ontvang van mense wat hom glo in die Blue Ridge-berge in Noord-Carolina gewaar het. Een van dié oproepe het daartoe gelei dat die liggaam van die 33-jarige Josue Calderon gevind is. Calderon is op die Appalachiese roete in dié deelstaat doodgesteek.

Die liggaam van ʼn ongeïdentifiseerde hawelose man is in ʼn asblik in Alabama aangetref nadat owerhede op ʼn oproep oor Laundrie gereageer het, berig The US Sun.

Sara Bayard (55) se liggaam is langs ʼn snelweg in Colorado gevind terwyl die polisie die gebied gefynkam het op soek na Laundrie. Petito en Laundrie het glo in die gebied stilgehou op hul toer deur die land.

Luidens berigte is Laundrie egter nie ʼn persoon van belang in die bogenoemde voorvalle nie.

Nog vroue sterf soos Petito

The Daily Mail het onlangs berig dat die liggaam van nog ʼn 22-jarige vrou gevind is nadat haar 41-jarige man na haar ouerhuis in New Hampshire teruggekeer het sonder haar.

Emily Ferlazzo se ouers het haar verlede week as vermis aangemeld toe haar man, Joseph Ferlazzo, gesê het dat hy haar geruime tyd nie gesien het nie.

Die egpaar het, soos Petito en Laundrie, in ʼn kampeerwa gebly wat hulle in ʼn huis omskep het. Die twee het na Vermont gereis om hul huweliksherdenking te vier.

Joseph het glo kort nadat hy by Emily se ouerhuis aangekom het erken dat hy haar geskiet en haar liggaam in die kampeerwa opgesny het.

Die polisie het die kampeerwa opgespoor, asook ʼn sak met liggaamsdele, ʼn vuurwapen en ʼn handsaag.

Hoewel Joseph aanvanklik skuld beken het, het hy verlede week onskuldig gepleit toe hy in die hof verskyn het.

Die oorskot van nog ʼn vrou is vroeër vandeesmaand in ʼn woestyn in Kalifornië aangetref.

Die liggaam, vermoedelik dié van ʼn vermiste vrou van New Jersey, Lauren Cho (30), is in ʼn afgeleë gebied gevind nadat sy reeds in Junie vermis geraak het.

Cho was glo saam met haar voormalige kêrel en ʼn paar vriende in Yucca Valley toe sy ontsteld geraak het en van die groep weggestorm het.

Sy het na bewering haar persoonlike besittings agtergelaat en haar vriende het nooit weer van haar gehoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Buck ·

Nice lang berig oor die VSA. Doen bietjie nuus oor die plaasaanvalle in KZN

Frank John ·

Shoe, America, julle rof nê? As julle so aangaan sal jul binnekort soos SA wees

Anonymouse ·

Dit laat my dink aan ‘n quote van The Wire: “We’re looking for one body in particular. If you go grabbing every one you see, we’ll be here all day”.

Perdevy ·

Die wêreld is mooi. Homo sapiens daarenteen is boos, oorbevolk en betotteld.

Johanna ·

Gaan kyk maar hoeveel vroue mans en.kinders jong mense is vermis in Amerika. Dit is myns insiens baie erger as hier by ons..hulle polisie is treurig en ook korrup.
Hulle Welsyn en Foster Care is in n toestand, nee wat, .ons kla maar daar gaan dit erger.. Ek het al gedink.die military diens SE WREEDAARDIGHEID in VSA dra by tot hulle moorde ens.

Charl ·

Liewe hemel, dit klink soos iets uit ”chainsaw massacre” !! Een groot domino effek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.