Vier met drie lewendige ietermagôs betrap

Ietermagô (Argieffoto) Foto: Keith, Coleen Begg, African Wildlife Foundation (http://www.awf.org/wildlife-conservation/pangolin)

Ietermagô (Argieffoto) Foto: Keith, Coleen Begg, African Wildlife Foundation (http://www.awf.org/wildlife-conservation/pangolin)

Vier vermeende stropers is in die noorde van Zimbabwe in hegtenis geneem nadat hulle met drie lewendige ietermagôs betrap is, het die Matusadona Anti Poaching Project (Mapp) berig.

Mapp het Maandag in ʼn verklaring gesê drie mans en ʼn vrou is Sondag deur ʼn teenstropingseenheid in hegtenis geneem naby Gokwe, nadat lede van die publiek ʼn wenk gestuur het.

Die verdagtes was glo besig om ʼn koper te soek vir die drie ietermagôs, een volwasse dier en twee kleintjies.

Die persone sal na verwagting binnekort in die Gokwe-landdroshof verskyn.

Ietermagôs is ʼn bedreigde spesie in Zimbabwe en die beskuldigdes kan, indien hulle skuldig bevind word, ʼn minimumvonnis van nege jaar elk opgelê word.

Die ietermagôs is intussen na die Tiki Hywood Trust se natuurlewe-weeshuis in Harare geneem, waar hulle gerehabiliteer sal word voordat hulle moontlik weer in die natuur vrygelaat sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans ·

Net buite klerksdorp skuins oor die dobbel plek oppad wolmaransstad staan hulle onder die bome en verkoop verkeurmannetjies

Ania ·

Ja, op pad na Sun City toe staan hulle ook met verkleurmannetjies en skilpaaie. Ons het al die DBV gebel, maar dit lyk nie of dit iemand traak nie. Hartverskeurend die arme diere!

Adriana Stuijt ·

Die verskille tussen die woorde ” lewendige ” en ‘lewende’ is nogal groot. Lewendig is vinnig op die voete, of soos die Engelse sou sê, ‘lively’. .. ‘Lewend’ beteken om te leef, dus nie dood nie, in Engels dus aangedui met die woord ‘Alive’.

Sune van Heerden ·

Dagsê Adriana

Dankie vir jou terugvoer.
Die HAT6 erken ook “lewendig” as “lewend, nie dood nie”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.